Foto’s: Verwoede storm sorg vir skade
Middelburg is deur ’n verwoede storm geruk wat talle inwoners dak- en muurloos gelaat het. Honderde bome is ook regoor die dorp deur die wind ontwortel en verplaas.

In Luttigstraat is me. Elbie Botha se doringboom, wat al 40 jaar oud is, met wortels en al uitgeruk.
“My hart huil vir my boom en waar gaan die voëltjies nou bly?”
Haar huis is ook binne oorstroom en haar dakteëls is verbrokkel nadat haar bure se dak afgewaai het en teen haar huis gegooi is.
Solly’s General Motors het ook erg deurgeloop en volgens die verkoopsbestuurder, me. Antionette van der Wath, weet hulle nog nie hoeveel rand se skade daar is nie.
“Een van die vertoonvensters is uitgepluk, die plafon het gate in en een van die bakkies het ook skade opgedoen.”
Hoogstraat is van die strate waar die bome beslis die meeste wind gevang het en selfs die begraafplaas is nie gespaar nie.
Steelcrest High School se rugbypale het omgewaai en ook ’n deel van hulle muur.
In Brugstraat het ’n gedeelte van ’n plafon op ’n 91-jarige vrou geval terwyl sy in haar bed gelê het.
Verskeie radiogroepe, waaronder Zello 911, asook die Gemeenskapspolisiëringsforum van die verskillende sektore, is al van gisteraand af hard aan die werk om bome weg te sleep en mense te help.
Die gemeenskap bedank hierdie groepe vir hulle onbaatsugtige opofferings.
Kliek hier vir nog leser foto’s.
Volgens weerberigte kan Middelburg vanaand ’n erger storm te wagte wees met winde van tot 120 km/h.
Wees dus voorbereid dat die krag moontlik weer sal afgaan en hou jou handdoeke byderhand vir oorstromings.

























