News

Dié buffel is Ontevrede

'n Yslike buffelbul het uit 'n wildsreservaat op die plaas Ontevrede in die Belfast/Dullstroom omgewing gebreek.

Die agtjarige bul, met ‘n horingspan van 38 duim en ‘n basis breedte van 14 duim, is geadverteer om hierdie komende jagseisoen vir R85 000 geskiet te word.

Dit is nie die eerste keer wat hierdie bielie na groener weivelde gaan soek nie. Hierdie is sy derde ontsnappingspoging. Anders as wat die gesegde lei, blyk dit “Third time – unlucky” vir die bul se eienaars.

Met sy vorige verkenningstogte is hy elke keer weer opgespoor. Hierdie slag blyk dit egter asof hy spoorloos verdwyn het.

“Hy het al vantevore uitgebreek, maar ons het hom altyd baie vinnig terug gekry,” sê Lene Bodenstein, ‘n wildbewaarder op die plaas.

Die bul is sedert 14 Maart soek. Nadat hy uit die reservaat gebreek het is hy op die plaas van Jannie Kruger opgemerk.

Me. Bodenstein sê dat hulle die veearts uitgeroep het om die bul te verdoof. Voordat hulle egter naby genoeg aan hom kon kom het hy in ‘n 80 ha Blackwattle bos in verdwyn. Die bos is gefynkam maar buffel se kind was te slim vir sy soekgeselskap.

Sy spore is aan die anderkant van die bos gekry. Die gebreekte draad daar naby het getuig dat die Dagga boy nog glad nie klaar getoer het nie.

Spore wat onlangs op die buurplaas gekry is het die hoop laat opvlam dat die bul nog in die omgewing is. Dit was egter ‘n vals alarm omdat daar later vasgestel is dat dit deur beeste op die buurplaas gemaak is.

“Daar is seker ‘n kans dat hy iemand se biltong geword het. Maar ons hoop dat die mense eerlik is en dat ons die buffel kan terug kry,” het me. Bodenstein gesê.

Indien iemand inligting oor die buffel het kan hulle vir Lene by 074 745 3043 bel.

Back to top button