Brandweer spook teen vullisvuur
Die brandweer het Saterdag onder fel kritiek deurgeloop toe hulle met twee leë pompe by 'n brand in die industriële gebied opgedaag het.

Na ‘n halfuur se gesukkel het een van die waens gaan soek vir ‘n brandkraan om die tenk vol te tap.
Hulle kon hierna ‘n rukkie spuit maar die waterdruk het vinnig weer verdwyn.
Bure van Marne Metals, waar die brand ontstaan het, het met hul eie brandslange gereedgestaan om te verhoed dat die vuur na hul besighede versprei.
Lede van die publiek het met ‘n tuinslang gepoog om die brand onder beheer te kry, maar die straaltjie water kon nie hond haar afmaak nie.
Talle het hard en duidelik te kenne gegee dat hulle vertroue in die brandweer verloor het.
Toe die tenker terugkeer het ‘n pa en seun dadelik die brandslang gegryp en by een van die brandweermanne oorgeneem.
Radiogroeplede het ook die brandweer gehelp om die brandslange vas te hou en rond te skuif.
Volgens die brandweer is dit tans onduidelik hoe die brand ontstaan het.
Dit was ‘n hoop afval in die erf wat omstreeks 17:00 onverklaarbaar aan die brand geraak het.
Die brandweer sê daar was onder meer vervoerbande wat in ligte laaie opgegaan het.
Die brandweer sê die hoop vullis sou vroeër die dag stortingsterrein toe geneem word, maar dit is volgens hulle nie gedoen nie.
Die brand is gelukkig beperk tot die erf en geen strukturele skade is aangerig nie.
‘n Swart stinkende rookwolk het oor die industriële gebied gehang, weens die rubber wat gebrand het.



















