Bulls oorweeg stappe
Die Blue Bulls maatskappy oorweeg sanksies teen Kragbron Stereo baas, dr. Willem du Toit, wat tydens Saterdag se kragmeting tussen die Bulls en Stormers 'n rooi kaart vir rassisme van die perskamer gekry het.
Verskeie van die land se top sportjoernaliste het kapsie gemaak teen dr. Du Toit en sy broer, se optrede in die perslosie tydens Saterdag se wedstryd teen die Stormers.
Die Observer het betroubaar verneem dat ‘n amptenaar verbonde aan die Lions unie, al woedend uit die losie gestorm het toe daar na een van hul spelers as “hotnot” verwys is.
Die losie is die heiligdom van die land se voorste sportskrywers, en minstens twee het skriftelik by die Bulls aangedring dat die stasie se akkreditasie vir gebruik van die losie teruggetrek word.
Een van die land se voorste sportskrywers, wat self al onder rasse diskriminasie deurgeloop het, beskryf die Kragbron duo as “skynheilige kansvatters teen wie strafmaatreëls geneem moet word om die perslosie weer normaal te kry”.
Die Bulls se bemarkingsbestuurder, mnr. Richard Papo, het Donderdag bevestig dat minstens vier skriftelike klagtes uit redaksionele sportsirkels ontvang is.
“Ons duld geen rassisme op Loftus nie,” het hy dit duidelik gemaak en bygelas dat ‘n besluit oor Kragbron se akkreditasie waarskynlik teen die einde van die werkweek gemaak sou word.
Hy sou Donderdagmiddag, na druktyd, met die Bulls se uitvoerende bestuurder, Barend van Graan, vergader het oor die aangeleentheid.
“Ons moet die partye regverdige kans gee om te reageer op die bewerings voordat drastiese besluite geneem word,” sê Papo.
Dr. Du Toit is Mei skriftelik veroek om te reageer op die bewerings van skeltaal teenoor spelers en skeidsregters, rassisme, en minagting van “werkende” joernaliste.
Mens wonder of dr. Du Toit vir Schalk Burger in sy gesig sal sê hy’s ‘n “f***** vuilgat” en vir Scarra Ntubeni hy’s ‘n “bliksemse swarte” soos ander joernaliste beweer hy sou gesê het.
‘n Veteraan sportskrywer sê in sy 20-jaar in die Loftus perskamer het hy “nog nooit so iets teegekom nie”.
“Sy vloekery, konstante pratery en lewendige radio-uitsendings, terwyl ons probeer kophou, is onaanvaarbaar, daar’s ‘n ongeskrewe gedragskode tussen die sportjoernaliste oor optrede in die perskamer, wat dié oom heeltemal oorskry,” sê die joernalis.
Dr. Du Toit het hewig reageer teen die bewerings en gesê ‘n “groepie joernaliste span saam” teen hom.
Hy sê van die joernaliste help hom selfs met sy opsomming wat hy volgens ‘n klaer “kliphard oor sy selfoon uitsaai”.
Hy sê hulle is oorgeskuif perskamer toe uit die presidentslosie uit en dat daar nooit enige klagtes daar was nie.
Papo het bevestig hy is van die hoofbalkon af geskuif perskamer toe.
Dr. Du Toit sê die bewerings is van alle waarheid ontbloot.
Hy het aangedring dat die Middelburg Observer Oregan Hoskins, Allister Coetzee en Breyten Paulse bel “om te hoor of ek ‘n rassis is”.
•Om kommentaar te lewer op die berig stuur ‘n sms na 37940 met die kodewoord bul en dan jou kommentaar. ‘n SMS kos net R1.50.
