Ondersoek lewer niks op
30 Mei is die tweede herdenking van die moord op Igna Nortjé, maar haar moordenaar loop steeds vry rond.
Elke moontlike leidraad is al opgevolg. Daar is selfs al ‘n siener en ‘n privaatspeurder genader om te help, maar tot op hede het dit op niks uitgeloop nie.
Me. Nortjé is op 30 Mei 2012 by haar huis in Sipresstraat, Dennesig, oorval en ontvoer. Haar liggaam is dieselfde aand, ‘n entjie vanaf haar BMW, in ‘n sloot op Verena gekry. Sy is met ‘n mes in die nek gesteek.
Die moordenaar het op die dag van die moord met me. Nortjé in die kattebak van haar BMW rondgery.
Daar is gestop by ‘n motorhawe op die dorp om te probeer geld trek, daarna is daar weer ‘n onttrekking probeer maak op Stoffberg.
Vandaar is die voertuig na ‘n vulstasie op Groblersdal waar ‘n inwoner en ‘n petroljoggie (albei verkies om anoniem te bly) die bestuurder van die BMW gekonfronteer het oor ‘n geskop uit die kattebak. Haar moordenaar het in die voertuig gespring en weggejaag.
• Me. Nortjé se pa, mnr. ST Potgieter, het kort na die moord ‘n R100 000 beloning aangebied met die hoop dat dit sal help om die moordenaar vas te trek. Ander inwoners het ook kontantbedrae bygevoeg.
• Adj. Piet Zeeman (van die georganiseerde misdaadeenheid) het hierdie week gesê dat hy tot op hede al elke moontlike leidraad opgevolg het.
Selfs nadat gesigsamestellings (identikits) saamgestel is met die hulp van die Groblersdal inwoner en petroljoggie en in die media versprei is, het dit tot nou toe nog tot geen positiewe inliting gelei nie.
Adj. Zeeman sê dat me. Nortjé se man, Riaan, hom ‘n paar maande gelede in kennis gestel het dat hulle vergader het met ‘n siener en ‘n privaatspeurder om te help met die ondersoek.
Hulle het hom verseker dat hulle kort daarna ‘n vergadering met hom sou belê om sake te bespoedig. Tot op hede het hy nog nie weer van hulle gehoor nie.
Hy doen ‘n beroep op enige persoon wat moontlik inligting kan verskaf oor wie die moordenaar kan wees of wie by die moord betrokke kan wees, om hom te bel by 082 556 5902.