News

Polisie ruil pistole vir mop

Vergeet van misdaad beveg! In Mpumalanga ruil polisiemanne nou hul uniforms vir oorpakke op Woensdae.

Klein Saterdag is voortaan skoonmaakdag vir polisiemanne in die provinsie, nadat opdrag gegee is dat alle uniformdraers aanmeld met denims of oorpakke en van 12:00 af, vir vier ure hul kantoorvensters moet was, gange moet mop, papiere moet optel…én van misdadigers moet vergeet.

Dié direktief is plaaslik vroeg vandeesweek uitgereik aan alle bevelvoerders deur die ondersteuningshoof, kolonel Anne Strydom, wat eersdaags met pensioen gaan.

Volgens die skrywe het die provinsiale kommissaris, luitenant kolonel Raymond Ntobela, opdrag gegee tydens ‘n inligtingsessie op 12 en 13 Mei, “dat alle personeel polisiestasies elke Woensdag vir vier ure moet skoonmaak”.

Kolonel Strydom het in ‘n e-pos beveel dat alle stasiepersoneel die week hul uniforms tuislaat.

Volgens die direktief sal betalende skoonmakers onder die bevel van Philemon Sindane, onder meer die paradekamer, raadsaal, badkamers, kombuise en reservistekantore, skoonmaak.

Die polisiemanne moet ook gemors optel in die parkeerareas, buite die stasie, die tennisbane en aanhoudingselle.

Polisielede moet sorg dat hulle “die nodige toerusting en skoonmaakmiddels het, en terkortkominge vroegtydig aanmeld”.

Na die direktief Dinsdag gesirkuleer is, het dit intussen ook aan die lig gekom dat die SAPD die oorlog teen misdaad in die middedorp verloor en by APS gepleit het om die parkerings rondom die poskantoor oor te neem om die statistieke daar te probeer verlaag.

APS het bevestig dat hulle gevra is om na die gebied te skuif, om misdaad te help bekamp, na ‘n vergadering met die polisie en munisipaliteit Maandag.

Die APS franchise sal volgende week begin om onwettige straatwagte om die poskantoor weg te dryf.

Die polisie weier al maande om enige misdaadstatistieke bekend te maak, veral in die sakekern, waar die manne in blou gereeld in die verlede misdaad waarskuwings uitgereik, en misdaadwenke met die publiek gedeel het.

Die swaar reuk van denne-jel het Woensdag in die plaaslike stasie gehang met die Observer se besoek.

Verskeie polisielede het gemor oor die feit dat hulle reeds oorlaai is, en nou hul werk opsy moet skuif, om die skoonmakers se werk te doen.

“Ek was nie eens vensters by die huis nie, hoekom sal ek die polisiestasie s’n was,” het ‘n senior polisielid gesê.

‘n Ander wetstoepasser wou weet hoekom hy soos ‘n stout kind moet loop en papiere optel, terwyl moordenaars en rowers vry rondloop.

“Dis verseker nie net Middelburg se stasie nie,” het kolonel Strydom gesê toe sy gepols is oor die mors van waardevolle werksure. Sy het verdere navrae na die provinsie verwys.

Brigadier Selvy Mohlala, sê dat die polisielede wat die interne direktief aan die media gelek het, “nie in die polisie hoort nie.”

Hy sê dit word uit verband geruk omdat daar geen tye vasgestel is vir skoonmaak nie, en dat die kommissaris bloot tydens die inligtingsessie opdrag gegee het dat bevelvoerders verantwoordelikheid vir hul stasies se netheid neem.

Hy meen die vier ure reël is afkomstig van kolonel Strydom.

Oor hoekom die lede moet skoonmaak as daar skoonmakers is, het brigadier Mohlala gesê “dis die lede se gemors, mens kan nie van ander verwag om dit skoon te maak nie”.

Hy het heeltyd die Observer se vrae oor misdaadbestryding operasies en sigbare polisiëring ontduik en gesê “polisiestasies moet netjies wees vir almal, die publiek en die gemeenskap”.

•Om kommentaar te lewer op hierdie berig stuur ‘n sms na 37940 met die kodewoord blou en daarna jou kommentaar. ‘n Sms kos R1.50.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button