News

Dis te laat vir Rocky

Rocky het besluit hy is klaar. Hy het sy lepel waarin hy sy fix gekook het weggegee met die presiese woorde "Ek is nou klaar." Maar dit was te laat vir Rocky. Want heroïen was nog nie klaar met hom nie.

Lindsay Venter (32) het ‘n harde lewe gehad. Een van weggooi en misbruik en niemand wat na hom kyk nie. Al het ‘n ander swerwer hom as haar kind voorgestel, het hy lankal vergeet hoe die veiligheid van ‘n ma se arms om hom voel.

Op straat was hy nie Lindsay nie, op straat was hy Rocky. Hard gemoker deur die klipperige pad wat die lewe met hom gestap het.

Rocky is in 2013 deur ‘n Middelburg Observer joernalis afgeneem waar hy tydelik skuiling tussen ‘n ander groep swerwers by die Tosca sentrum gesoek het.

Van daar het Rocky ‘n draai by ‘n dwelmondersteuningsgroep gaan maak voordat hy onder Marieta Petzer se vlerk ingekruip het. Sy het hom van die draak in hom begin speen met Methadone.

Dit het goed gegaan met Rocky. Hy het stadig maar seker opgestaan en die lewe in die oë begin kyk. Toe kry hy ‘n werk, en geld. Dit was nie lank nie toe het Rocky verdwyn.

Op 1 Mei het iemand van Koppiestraat mev. Petzer gebel. Rocky het daar opgedaag en hy het dringend hulp nodig gehad. Sy het sonder om te huiwer soontoe gery om hom weer te help opstaan.

Met die belofte dat hy klaar is het hy plegtig sy lepel, versier met swart toutjie om die steel, vir haar gegee om weg te gooi. Hy sou nie weer vir hom ‘n draak daarin kook nie.

Die laaste hit het hy drie dae terug in sy lyf ingespuit. Min het Rocky geweet dat dit die laaste een was en dat dít sy lewe sou kos.

Hy het begin kla dat sy ledemate en sy kop vreeslik pyn. Sy been is in gips gesit maar die gif in sy lyf kon nie deur gips vasgehou word nie. Net soos die swart toutjie styf om sy lepel se steel vasgedraai was, was die swart tou van heroïen besig om die lewe uit sy lyf uit te wurg.

Voor sy dood is Rocky daagliks eMalahleni toe vervoer vir dialise nadat sy niere begin ingee het.

Kort daarna, op Sondag 8 Junie, het Rocky se liggaam ingegee. Hy het seker nie besef hoe waar sy woorde sou word toe hy sê “Ek is nou klaar.”

•Om kommentaar te lewer op hierdie berig sms die woord Hit na 37940 en daarna jou kommentaar. ‘n Sms kos R1.50.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button