Die dier loop tans rond met kapwonde aan sy horing, asook wonde aan sy lyf wat so diep is dat ’n man sy vuis daarin kan druk. ’n Ander renoster is in dieselfde voorval doodgeskiet en van sy horing gestroop.
Die voorval het oor die afgelope naweek in die Loskopdam omgewing plaasgevind.
Owerhede het versoek dat die naam van die wildsplaas nie bekend gemaak word nie.
Juan de Beer, bestuurder van Spesiale Ondersoeke by die Mpumalanga Parkeraad, sê dat die wreedheid wat stropers teenoor die diere gewys het, amper ondenkbaar is.
Stropers het vermoedelik een van die diere gekwes toe hulle geskiet is, wat hom vir ’n wyle bewusteloos gelaat het. Die renoster het daarna waarskynlik wakker geword van die pyn toe daar gepoog is om sy horing af te kap.

Sy maat was nie so gelukkig nie. Die dier is sy lewe, sy horing asook sy twee voorpote kwyt.
Mnr. De Beer sê dat hy met verskeie kenners landwyd in kontak was en dat daar volgens sy wete, nog nêrens anders ’n voorval was waar stropers ander liggaamsdele van renosters, buiten hul horings, gestroop het nie.
“Ons weet glad nie hoekom hulle dit gedoen het nie.”
Die renoster is gestuur vir ’n nadoodse ondersoek om verdere inligting te probeer bekom.
Intussen het twee veeartse die oorblywende renoster besoek en daar is bepaal dat dit beter sal wees om die dier in die natuur te laat aansterk as om dit na ’n boma te vervoer.
