Winter eis sy tol
Die koue winter het sy eerste slagoffer geëis. Of ons dink so. Mens sal nie weet nie. Daar is so baie spoke waarop die wêreld sy rug gedraai het.
Dit is seker moontlik dat daar êrens nog een lê waarvan niemand bewus is nie. Soos die beendere wat verlede jaar tussen die riete langs Zuidstraat gekry is.
Spierwit gedroog. Niemand het na hom gesoek nie. Iemand het hom maar toevallig gekry.
Langs die treinspoor by Luttigstraat lê daar Maandagaand twee hopies smerige komberse, sigbaar in die hoofligte van ‘n polisievoertuig.
Sekuriteitpersoneel by ‘n gebou daar naby het die polisie gebel nadat een van die mans, James, kom vra het vir hulp. Sy vriend wou nie wakker word vir ‘n sluk spirits nie.
Die een hopie roer toe die speurder saam met James nader stap en hy draai amper net daar in sy spore om.
“Nee,” praat James hom moed in “daai een leef nog.” Dit is die ander hopie wat dood is.
Terwyl die toneel in die dowwe motorligte afspeel glip daar kort-kort skaduwees in die donker verby. Ander spoke wat op ander plekke slaapplek soek en hulle eie spirits het.
James vertel hoe hy op sy maat afgekom het. “Toe ek sy komberse wegvat het ek gesien sy oge ruk nie rond soos altyd nie, hulle kyk net reguit. Ek het amper weggehardloop. My vrou Mieta het bly staan.”
Die man wat dood is kom glo van Nelspruit af. Sy familie het hom onlangs kom haal en huistoe gevat.
Hy het so twee weke gelede weer weggeloop. Ek en jy sal nie verstaan wat ‘n man in die middel van ‘n yskoue winter strate toe dryf nie.
James kyk hartseer na die hopie: “Hy was my beste vriend wat ek die meeste gelike het.”
Onder die hopie wat nog leef kom daar ‘n gesig uit. Hy is skynbaar onbewus van sy vriend wat langs hom dood lê.
Of miskien is hulle lewens van so aard dat jy so naby aan die stof leef dat niemand eintlik omgee as jy jou laaste asem uitblaas en weer tot stof terugkeer nie.
Twee ambulansmanne bevestig wat ons almal weet: “Hopie nommer een leef nie meer nie”.
Nadat hulle bietjie met “hopie nommer twee” gesels, klim hy onder sy komberse uit en agter by die ambulans in.
“Nou gaan hulle weer sy komberse steel terwyl hy nie daar is nie,” mompel James vies, terwyl hy en sy Mieta wegstap en tussen die skadu’s van die nag verdwyn.
• Die identiteit van die man wat oorlede is kon nie voor druktyd bekom word nie.