Motorfietsryer sterf
Sowat agt ure na 'n ongeluk in die industriële gebied, is 'n motorfietsryer oorlede.
“Die neuroloog het by die hospitaal vir ons gesê Stephen was al op die ongelukstoneel breindood,” het me. Colleen de Lange (sy skoonma) Maandagoggend hartseer gesê.
Die ongeluk het omstreeks 07:15 in Zuidstraat plaasgevind toe mnr. Stephen Briggs se Yamaha die voertuig van mnr. Shannon Kruger getref het. Mnr. Kruger het ingedraai by ‘n besigheid toe die motorfiets sy kar op die deur getref het.
Mnr. Briggs (‘n werknemer van Jeff Drill & Blast) het sy vrou, Melissa, die oggend by die werk gaan aflaai en was oppad huistoe, toe die ongeluk gebeur het. Dit was betaalnaweek en hy was af.
“Ons weet nie hoekom hy in Zuidstraat afgery het nie, want hy ry nooit daardie pad nie,” het me. De Lange gesê.
Me. Briggs het haar na die ongeluk gehaas en het saam met haar man in die ambulans tot by die hospitaal gery.
Kort na aankoms by die Life Midmed Hospitaal, het die dokters me. Briggs en familielede in kennis gestel dat mnr. Briggs erge breinbeserings en ‘n nekbesering opgedoen het.
Hy is dadelik aan lewensonderhoudende masjiene gekoppel en me. Briggs was by haar man in die intensiewe eenheid totdat hy omstreeks 16:45 oorlede is.
Mnr. Briggs is beskryf as “‘n staatmaker en ‘n ongelooflike liefdevolle familieman, wat sy gesin altyd eerste gestel het. Hy was ‘n stunning, awesome mens.”
Me. De Lange het gesê dat sy “een van die skoonma’s wat werklik kan sê ons het ‘n goeie verhouding gehad. Ek was baie lief vir dié skoonseun van my!”
Mnr. Brigs sou op 13 November sy 29ste verjaardag gevier het.
Hy word oorleef deur sy vrou, Melissa, kinders Arno (8) en Cailey, ouers Colin en Helen, broers Lionel en Jhonty en suster, Cindy.
Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie en vir navrae kan me. De Lange gebel word by 072 988 1667.
