News

Tot in tandwortels geskok

’n Pasiënt van ’n bekende tandarts praktyk, Brown & Rossouw, sê hy was tot in sy tandwortels geskok, toe twee gerespekteerde tandartse in ’n woeste skreeugeveg betrokke geraak het in die gang.

Die pasiënt, wat op voorwaarde van anonimiteit met die Observer gesels het, sê hy het verlede Maandag by die praktyk aangeklop vir hulp.

’n Wortelkanaal is gedoen, maar hy moes Vrydag terugkom vir opvolgwerk aan ’n ander tand, en ’n afspraak vir 07:00 Vrydagmore is gedagboek.

Toe hy daar kom moes hy sit en wag dat die motorhuis oopgesluit word, vir die aanskakel van die kragopwekkers.

Toe die tandards met die gesoekte sleutels wel sy opwagting maak, was daar perde.

Die pasiënt sê ’n onderonsie het ontstaan tussen drs. Morné Rossouw en Jurie Du Preez, wat erg in die gang van die praktyk gestry het, “voordat dr. Rossouw sy vinger in dr. Du Preez se neus gedruk het”.

Die atmosfeer was so gelaai, dat die pasiënt eindelaaste gevra is om te loop, sonder dat ’n opvolgafspraak gemaak is. Dr. Ashlynne Brown, mede-eienaar van die praktyk, sê die onderonsie het ontstaan omdat dr. Du Preez nie die motorhuis, waarin die kragopwekkers is, kon oopsluit nie.

Dr. Brown, of dr. Du Preez, sluit gewoonlik die praktyk oop, maar dr. Rossouw is gevra om Donderdag te sluit, omdat dr. Brown in teater was.

Toe dr. Du Preez opdaag vir die afspraak met die pasiënt, kon hy egter nie aan die gang kom nie, weens die opwekkers, en dis toe dat hy die vennote beskuldig dat hulle hom opsetlik probeer ondermyn.

Dr. Du Preez het die praktyk begin en ’n paar jaar gelede vrywilliglik besluit om te verkoop, sy naam is van die praktykborde verwyder, maar hy het aangebly as werknemer van die praktyk, op kommissie basis.

Dr. Du Preez het hom so vererg dat hyself die pad gevat het, vol dagboek of te nie.

Daar is later, per sms, by hom gepleit om terug te kom, en sy werk as tandarts en werknemer van die praktyk, voort te sit.

Hy het egter geweier, en dissiplinêre stappe word nou intern teen hom geneem “omdat hy gedros het”, en al sy ander afsprake vir die dag gekanselleer moes word.

Die klaer sê hy was geskok dat volgroeide, professionele dokters, mekaar so die hare kan invlieg oor wat hy vermoed “net geldsake kan wees”.

Die vennote ontken dit en sê die debakel kan toegeskryf word aan ’n onskuldige misverstand, wat uitgeklaar kon word met een telefoonoproep.

Dr. Rossouw het die pasiënt later die middag gebel en verskoning aangebied.

Op dié stadium was die pasiënt reeds deur ’n ander tandarts behandel.

Die klaer sê hy was in geweldige pyn, en sy toestand is meer gering geag as die egos van die dokters.

“Ek sal my voete nie weer by die praktyk sit nie,” sê hy hard en duidelik.

Dr. Brown sê daar was geen vingers in niemand se neuse gedruk nie – “Dr. Rossouw het bloot op dreigement dat dr. Du Preez ’n opposisie praktyk sou oopmaak, en al die kliënte afrokkel, sy vinger gelig en gesê het ‘jy dreig ons nie,’ dis al”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button