Saak na kommissaris
Die saak waar 'n man erg in die polisieselle aangerand is, gaan nie onder die mat ingevee word nie, maar opeindig in die Nasionale Polisiekommissaris se kantoor.
Mnr. Carel van der Schyff is twee weke gelede kaal uitgetrek en aangerand in die polisieselle by die Middelburg Polisiestasie.
Hy het verder beweer dat die verhoorafwagtendes gesê het dat hy iets aan die kaptein gedoen het en hom daarna aangerand het.
Hy het vertel dat hy later gesien het hoe kapt. Timothy Dladla sy eie selfoon vir die mense in die sel gee om persoonlike oproepe te maak.
Mnr. Van der Schyff se saak is uit die hof gegooi en sy borggeld aan hom terugbetaal.
Mnr. Van der Schyff se prokureur, me. Johan-Lee Benadie, het Woensdag gesê dat hulle tot op hede nog nie weer van die polisie gehoor het nie.
Sy het aangedui dat hulle ‘n brief sal stuur aan die Nasionale Kommissaris van Polisie se kantoor en dat hulle binnekort met ‘n siviele aksie sal begin.
• Luit.kol. Leonard Hlati (provinsiale woordvoerder) het Donderdagoggend gesê dat stasiebevelvoerder van die Middelburg Polisiestasie, brig. Jansen Ngoveni, hom in kennis gestel het dat hulle besig was met ‘n vergadering.
Hiertydens sou hy vra hoe ver die ondersoek is aangaande mnr. Van der Schyff se bewerings. Teen druktyd het luit. kol. Hlati nog nie ‘n antwoord van brig. Ngoveni se kantoor af gekry nie.
