Slange wil slaap
Slange gaan nou al hoe meer in en om huise gesien word, want nie net wil hulle daardie laaste paar rotte vang voor hulle slaap nie, maar soek hulle ook ’n warm plek om te hiberneer vir die winter.
Slangvanger Victor Boshoff sê dat hy verlede week ’n groot Mosambiekse Spoegkobra van sowat 1.3m by ’n hostel in Mhluzi moes gaan vang.
“Die slange se natuurlike habitat waar hulle hiberneer, miershope, word deur kinders gebreek en dan gaan hulle natuurlik na die huise toe kom.”
Hy sê hierdie tyd van die jaar vang hulle gereeld Mosambiekse spoegkobras, pofadders en rinkhalse in erwe, motorhuise en huise, omdat die slange vir die laaste keer kos vang (soos rotte en muise) voor hulle gaan hiberneer.
En dit is nie meer nét wonings wat naby veldjies geleë is wat slange kan verwag nie, aangesien die slange in stormwaterpype opkom. “Ek kyk elke aand onder my bed of daar nie ’n slang is nie,” het hy ernstig gesê.
Die gemeenskap moet egter onder geen omstandighede die slange self probeer hanteer nie, aangesien al drie genoemde slange giftig is.
Die Mosambiekse spoegkobra het neuro- en sitotoksiese gif. Die slang se gif verlam die diafragma en die persoon kan asemhalingsprobleme ondervind. Die weefselskade is net so erg.
“Die meeste mense wat deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik word, moet veloorplantings kry en in baie gevalle volg amputasie.”
Pofadderbyte veroorsaak ook geweldige weefselskade. “Pofadderbyt is soos om jou hand in kokende kookolie te druk. Dit is dieselfde pyn en veroorsaak dieselfde blase en weefselskade.”
Rinkhalsbyt is neurotoksies, wat die asemhalingstelsel aantas.
Wanneer mense ’n slang in hul huis of erf opmerk, is die goue reël dat die slang dopgehou moet word. “Dit help nie jy bel my die volgende dag en sê die slang was daar nie. Ek gaan ook nie ’n motorhuis uitpak om ’n slang te vang nie!”
Mense moet verstaan dat mnr. Boshoff ook voltyds werk (hy is die eienaar van Proto Training) of soms besig is om ’n slang op ’n ander plek uit te haal. “Sommige mense raak soms ongeskik as ek nie dadelik kan kom nie.”
Hulle kry ook gereeld hierdie tyd van die jaar mense wat vakansie gaan hou by plekke soos die wildtuin en dat daar dan slange saam met bagasie terugkom.
• As enige persoon ’n slang wil laat verwyder, bel mnr. Boshoff of sy vrou, Karin, by 082 697 9954 of 083 628 4902.
• Indien iemand deur ’n slang gepik word, kan hulle mnr. Boshoff ook kontak. Na aanleiding van die bytplek (foto’s kan gestuur word), kan hy die slang identifiseer en voorstel watter behandeling gevolg moet word.
• Mnr. Fanie Strydom (wat lid is van die Suid-Afrikaanse Slangbyt Instituut) het gesê indien mense nie mnr. Boshoff in die hande kry om slange te verwyder nie, hulle hom kan bel by 079 606 8374.
