Hannelie terug in rehab
Hannelie Wessels is na 'n rehabilitasie sentrum geneem, nadat sy vir die soveelste maal uit die Oorwinnaars se huis in Koppiestraat weggeloop het.
Verskeie persone het na Hannelie gesoek nadat sy in Desember 2014 uit Middelburg verdwyn het. Sy het verlede naweek, vuil en uitgeteer, weer haar verskyning gemaak.
Daar is vir haar blyplek in Koppiestraat gegee, op voorwaarde dat sy van die dwelms uitvars, hierdie keer sonder haar geliefde methadone, ‘n gewoontevormende medisyne wat dikwels gebruik word om heroïenverslaafdes van die dwelm te speen.
Hannelie het nie lank gehou nie. Verlede Donderdag, kort voor die koerant op straat geland het, het sy uit haar plek van veiligheid weggeloop.
Sy en haar vriend, Casper Potgieter, is oor die naweek verskeie male afgeneem, terwyl hulle by ‘n verkeerslig gesit en bedel het.
“Ek het naderhand voor haar gaan sit om te probeer keer. Dit was net te erg. Die een ou het nog vir my vriend R50 gegee, toe sien hy vir Hannelie raak en ruk sy selfoon uit en neem ons af.”
Mnr. Potgieter vertel dat daar bykans vier karre by die verkeerslig by McDonald’s gestop het om hulle af te neem, nadat hulle Hannelie na aanleiding van ‘n foto in Vrydag se Middelburg Observer herken het.
Haar pogings om oor die naweek van huis tot huis in Kanonkop te bedel is ook deur die berig in die wiele gery.
“Oral waar sy vir geld gevra het, het mense vir haar gesê sy moet weggaan want hulle het haar in die koerant gesien,” vertel mnr. Potgieter.
Sondagmiddag vroeg het haar pa haar kom haal.
“Hannelie is terug rehab toe. Haar pa het gesê hy gaan haar nie eers huistoe vat nie, hulle vat haar reguit rehab toe.
Ek hoop net sy kan uithou hierdie keer.”
• Daar is kort voor druktyd verneem dat Hannelie Maandagoggend weer die pad gevat het vanuit Vanderbijlpark waarheen sy gister geneem is.
