NewsUpdate

Opvolg: Vermoorde se broer getuig

Die dag van werklikheid sal na alle waarskynlikheid Vrydag aanbreek vir Ronel Botma, wat skuldig gepleit het op die moord van haar man Tiziano Ciciliato in Februarie 2012, wanneer sy waarskynlik gevonnis word.

Die staat het Maandag net na 14:00 hul saak gesluit, nadat Roberto Ciciliato, die oorledene se broer, die getuiebank betree het.

Mnr. Ciciliato het aan die hof vertel dat sy broer eerder met niks sou wegloop uit die huwelik, as wat hy die beskuldigde en hul minderjarige dogter sou skade aandoen.

Hy het gesê dat hy dikwels gebruik gemaak het van gekruide taal en so met almal gepraat het.

Die hof moes vir ’n paar minute verdaag, nadat mnr. Ciciliato emosioneel geraak het toe hy gevra is hoe hy voel oor die feit dat mev. Botma sy broer laat dood maak het.

Tydens ’n ander geleentheid het mnr. Ciciliato se vrou Wendy kliphard in die openbare bank aan die lag gegaan toe daar gesinspeel is dat hy ander familielede geïntimideer het om nie onderhoude met mev. Botma se regspan toe te staan nie.

“Hulle het mekaar gereeld gevloek. Hy sou vir haar iets neerhalend sê en sy sou vir hom iets terug sê. Hulle het ’n uitstekende verhouding gehad.”

Mnr. Ciciliato het gesê dat sy broer voor sy dood aan hom gesê het dat sy vrou hom wil dood maak. Hy het egter nie veel daarvan gemaak nie.

Hy het vertel dat een van sy broer se beste vriende hom versoek het om deur te ry Middelburg toe, omdat daar moeilikheid was.

Michael Abraham het glo later telefonies aan mnr. Ciciliato gesê dat hy dink die oorledene moet pille kry omdat hy “dit soms kan verloor.”

Mnr. Ciciliato het onder kruisverhoor vertel van ’n versameling diamante asook van lewensversekering. Mev. Botma se regsverteenwoordiger, advokaat Salie Joubert, het dit vreemd gevind dat die staat nie die belangrike bewyse opgevolg of tydens die staat se saak aangeraak het, indien dit sou water dra nie.

Na aanleiding van die oorledene se jongste dogter se optrede by sy begrafnis, (sy het nie gehuil nie, wou nie ’n blom op die kis sit nie en het saam met haar vriende grappies gemaak), moes mnr. Ciciliato aan adv. Joubert toegee dat dit hom laat wonder het of die verhouding tussen sy broer en sy minderjarige dogter nie so goed was as wat hy gedink het nie.

Adv. Joubert het ter slotte gesê dat hy sal argumenteer dat mnr. Ciciliato se getuienis van geen waarde is nie, omdat hy nie oop kaarte met die hof gespeel het nie.

Die hof het tot Woensdag verdaag vir die inhandiging van vertoë. Vonnisoplegging sal na verwagting Vrydag plaasvind.

• Die Hooggeregshof moes Dinsdag vir etlike ure verdaag omdat mnr. Ciciliato vasgevang was in die verkeer op die N4 nadat daar ’n massiewe ongeluk naby die Middelburg Plaza was, waarby meer as 60 karre betrokke was. Lees meer oor die ongeluk en kyk na die video elders.

Lees vorige berigte hier:

Opvolg: Ronel Botma moes glo aan vurkhyser hang

Video: Botma skuldig

Opvolg: Kinders het pa gevrees

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button