Al draai dit in konstitusionele hof
Hy het klaar 'n aansoek vir appél, sê mnr. Wiley Harrington! Regter Cynthia Pretorius het verlede Donderdag in die Gautengse Hooggeregshof beslis dat die Nexbed Hotel gesloop moet word.
Dit het egter nie mnr. Harrington se veglus geblus om sy hotel te behou nie. “Al gaan ek ook konstitusionele hof toe! Ek sal nié afbreek nie! As hy ‘n fight soek, dan gee ons hom ‘n fight”
Mnr. Harrington het gesê dat mnr. Constantine Panayodites (Costas) “dink hy gaan met my truuks uithaal. Hy wil net almal dagvaar! Hy gaan ‘n groot surprise kry!”
Hy het gemeld dat die dispuut van die Nexbed gaan oor parkering en die boulyne. Daar is ook beweer dat hy ‘n bestaande ou gebou afgebreek het, maar mnr. Harrington ontken dit. “Ek het nié afgebreek nie, ek het net die struktuur verbeter en verbeterings aan die gebou gemaak! Daar is géén strukturele of hersoneringsprobleme nie, daar was bestaande dienste én die padverkeerstudie oor Laverstraat is reeds daar.”
Mnr. Harrington sê die eintlike rede hoekom mnr. Panayodites met die aksie begin het, is nié dat mnr. Harrinton oor die boulyn gebou het nie, maar omdat mnr. Panayodites ook in die gasvryheidsbedryf is. “Dit is ‘n persoonlike aksie.
Mnr. Panayodites is die eienaar van Constantia Hotel. Volgens mnr. Harrington het mnr. Panayodites nooit in die geding melding gemaak het dat hyself ook in die gasvryheidsbedryf is nie. “Dit gaan nie oor die gebou (Nexbed) nie, maar omdat hyself ook ‘n hotel het. My tipe gaste is egter nie sy tipe gaste nie. Ek bedryf tog ‘n driester hotel! Hy is nie eers as driester geregistreer nie.”
Mnr. Harrington het gemeld dat hy 15 voltydse werknemers het en 32 gaste kan akkommodeer. Hy sê dat mnr. Panayodites se aanname dat die Nexbed Hotel sy gebou en die omgewing benadeel, ongegrond is, aangesien dit ‘n netjiese gebou is.
“Ek het niemand benadeel nie, inteendeel, ek het werk geskep en het ‘n groot kliëntetal opgehou.”
Rakende die slopingsbevel wat in Augustus 2008 verkry is, het mnr. Harrington gesê dat sy regsverteenwoordiger van destyds, advokaat Jan Rousseau nagelaat het om hom te gaan verteenwoordig tydens die munisipaliteit se aansoek. “Ek moet dus eintlik vir Jan verantwoordelik hou daarvoor. Hy was die dag nie by die hof nie, want hy was met verlof!”
Mnr. Harrington het gesê sodra die saak afgehandel is, wag “daar ‘n hengse surprise vir almal. Ek wil nog baie doen by Nexbed en ek gaan hierna ‘n m..r..se hotel bou en my aandeel in die gasvryheidsbedryf vergroot.
• Mnr. Emmanuel Tsehla (mediawoordvoerder van die Steve Tshwete Munisipaliteit) het verskeie kere ‘n antwoord beloof, maar kort voor druktyd gesê dat hy nog wag vir toestemming om hul geskrewe antwoord vir die koerant te stuur.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!



