Video: Staan op, tel jou goed op en loop!
Nét soos in Johannes 5:8, het mnr. Kobus Boshoff (63), "op 'n Sabbatdag opgestaan en geloop".
Dít kom nadat ‘n groepie sendelinge van Amerika en Kanada, wat deel is van die program, bekend as die “World Race”, vir hom gebid het.
Mnr. Boshoff is deel van die Koppiestraat-projek, en was vir twee weke bedlêend. Die groepie buitelandse sendelinge het lede van die Middelburg Oorwinnaars, die ondersteuningsgroep, wat hulp verleen aan dwelmverslaafdes, by hul tydelike huis, in Koppiestraat besoek.
Die sendelinge is na die besoek vir ‘n toer deur die Koppiestraat-projek se houthuisies geneem.
Toe hulle mnr. Boshoff, bedlêend in sy houthuisie opmerk, het hulle dadelik gevra of hulle vir hom kan bid.
“Kobus het net daar opgestaan, sy loopring gevat, opgestaan en geloop!” het sy kamermaat en jarelange vriendin, me. Marie du Plessis, gesê.
Mnr. Boshoff het tot by ‘n stoel buite die huisie geloop en in die sonnetjie gaan sit.
“Dis ons klein wonderwerkie.”
Mnr. Boshoff het verlede jaar na ‘n ligte beroerte, balans in sy bene verloor.
Sédertdien kan hy slegs met sy loopring oor die weg kom.
Mnr. Boshoff het ook vir die Observer na ‘n middagslapie opgestaan, sy loopring gevat… en gewys hoe hy tot by die stoel buite hul huisie loop.
“Dit was nie moeite nie, dis oefening!” het hy gesê.
Die sendelinge wat deel is van die World Race het elf maande, elf verskillende lande besoek om sendingwerk te doen en te bid vir mense.
Lede van die groep het Sondag by die Kruisgenerasie getuienis oor mnr. Boshoff se belewenis gelewer.
Kyk na ‘n video van hoe mnr. Boshoff opstaan en tot by sy stoel buite hul huisie loop, op www.mobserver.co.za.
Johannes 5:8-11: “Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.” Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop. Dit was ‘n sabbatdag. Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is ‘n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.” Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.”
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
