Middelburg kykNET se Dorp van die Jaar
Die vreugdevure het omtrent hoog gebrand Woensdagaand by Nashua waar die Dorp van die Jaar-komitee saamgekom het vir kykNET Kwêla se aankondiging van die Dorp van die Jaar: Middelburg!

Gaste het “We are the champions gesing” en toe losgetrek met Sarie Marais so tussen die trane van blydskap deur.
Ja Middelburg, ons het dit weereens gedoen, en saam gedoen, soos ons maar doen.
Dit wil blyk of selfs die dwarstrekkers ook maar in die geheim hul stem vir Middelburg uitgebring het.
Selfs uit Dubai het die trots vir Middelburg soos die warm son daar gestraal – sê Leon Janse van Rensburg op Facebook.
Junior van Niekerk van Nashua, wat namens Middelburg op Kwêla gepraat het, had dit reg toe hy gesê het elke vlekvryestaal pot en pan kom van Middelburg, selfs dié in Swakopmunt, wat terloops die hele Namibië agter hom gehad het.
Burgemeester, mnr. Mike Masina, ‘n kanniedood musiekliefhebber, het ook gaan oë wys by Nashua waar hy ‘n warm ontvangs gekry het.
Hy dra die lied, Mandela Day deur Simple Minds, aan ieder en elke Middelburger op – “Want Middelburg het onteenseglik bewys dat ons kan saamstaan, soos Madiba wou hê”.
“Madiba sou trots wees op ons, my hart is geswel van die trots, ek’s bly ek kan Middelburg my tuiste noem,” sê mnr. Masina.
Mnr. Masina sê hy het van dag een af geweet ons gaan wen – “Dit is ons mentaliteit, ‘n wen mentaliteit, as ons iets aanpak dan kry ons goud,” het hy Donderdag na die jolyt gesê.
Met die wen saam kry Middelburg R1 miljoen se bemarkingslugtyd op kykNET.
Maar, daar moet darem fees gevier word ook, en derhalwe sal kykNET op 25 September die dorp op sy kop kom keer met ‘n makietie soos die dorp nog nooit gesien het nie.
Bobby van Jaarsveld, Emo Adams en Brendan Peyper het reeds bevestig dat hulle hier sal wees.
Kwêla aanbieder, Therese Benade, het Donderdag gesê dat dit duidelik in die uitslae is dat Middelburg ‘n massiewe poging aangewend het om te wen.
“Hoewel ons geensins die presiese stemtal kan bekendmaak nie, is dit duidelik dat Middelburg die oorwining verdien het,” sê Therese.
“Ons by Kwêla is baie beïndruk met die dorp en sy mense,” sê sy.
Dit was maar net die derde keer in 112 jaar van die Observer se bestaan dat die mashoof verander is om die Dorp van die Jaar windpomp in te sluit.
Kyk hoe die dorp saam juig toe Middelburg as wenner aangekondig is:
Luister gerus na Simple Minds se Mandela Day:
