News

Sesjarige deur spinnekop gebyt

'n Sesjarige seuntjie is verlede week deur 'n sakspinnekop gebyt.

Me. Deseré Steyn sê klein Rayden het Vrydagoggend vir haar die bytplekkie net onder sy boud gewys.

Sy het gedink dit is ‘n muskietbyt en was nie bekommerd daaroor nie.

Later dieselfde dag het dit egter rooi en opgehewe geraak en ‘n groot blaas gevorm.

Sy het later slang- en spinnekopkenner, Victor Boshoff, gekontak, wat vir haar gesê het watter salf om op te sit.

Me. Steyn sê Rayden het gelukkig nie siek geword nie en dat sy beslis mnr. Boshoff se advies gaan volg.

Mnr. Boshoff sê hulle kry gereeld navrae oor spinnekopbyte op die dorp.

Die belangrikste advies wat hy gee is dat die blaas wat vorm, nié stukkend gemaak moet word nie!

“Dit vorm gewoonlik ‘n geel puntjie en dan dink mense dit is ‘n puisie en druk dit uit of karring daaraan met ‘n naald. Dit is dan wanneer sekondêre infeksies intree en daar ‘n gat in die vel kan inval.”

In die geval van die sakspinnekopbyt, beveel hy aan dat die bytplek skoongehou word met louwarm soutwater.

Dit is ook goed om maar altyd ‘n buisie Supiroban salf in jou noodhulptassie te hou. Dit kan oor die toonbank by ‘n apteek gekoop word en werk uitstekend vir spinnekopbyt.

Die sakspinnekop se byt is baie seer en veroorsaak weefselskade soos blase. Hierdie blase genees egter vinnig as dit reg behandel word.

Wanneer ‘n viooltjiespinnekop jou egter byt, vorm groot blase en weefselskade. Die viooltjiespinnekop kan wel fataal wees by veral ouer mense en jong kinders.

Alhoewel die dodelik giftige knopiespinnekop in Middelburg voorkom, het mnr. Boshoff in die laaste 27 jaar wat hy hier bly nog net twee gevalle gehad waar mense deur dié spinnekop gebyt is.

Dit is die enigste spinnekop in Suid-Afrika waarvoor daar antiserum is, aangesien hierdie spinnekop so giftig is.

As iemand vermoed hy is deur ‘n spinnekop gebyt, kan hulle die bytplek afneem en die foto stuur vir mnr. Boshoff.

Deur slegs die bytplek te sien, kan hy bepaal watter spinnekop die persoon gebyt het en watter tipe behandeling nodig is.

Vir navrae, bel mnr. Boshoff of sy vrou, Karin by 082 697 9954 of 083 628 4902.

• Mnr. Boshoff sê insekte soek skuilplek in huise gedurende Wintermaande en mense moet maar gereeld spinnekoprakke verwyder en onder beddens kyk en skoonmaak om byte te voorkom. ‘

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button