Eksvroue kry interdikte
Twee van mnr. Seef Mulder se eksvroue het tydens hul huwelike met hom, beskermingsbevele teen hom gekry.
Die verdediging het die inligting bekend gemaak tydens die verhoor van me. Annemarie Mulder, (op daardie stadium vrou nommer vier) wat hom op 2 Oktober 2013 by hul huis in Kogelstraat geskiet het.
Sy een vrou het in haar beskermingsbevel gesê: “ek pleit dat die hof die interdik toestaan, want ek vrees vir my lewe. Ek leef in konstante vrees as my telefoon lui.”
Dié vrou het onder meer destyds in haar verklaring gesê dat mnr. Mulder vir haar ma én die president van ‘n bekende maatskappy (waar sy gewerk het), sou gesê het “dat hy haar kop op ‘n skinkbord soek en sal seker maak dat sy haar werk verloor.” Mnr. Mulder het op dié bewerings gesê dat dit gehandel het oor ‘n voorval waar sy vrou hom nie wou saamneem na ‘n geselligheid nie, omdat sy ‘n verhouding met ‘n kollega gehad het en hy dit wou stopsit.
Hy het ook gedreig dat hy naakfoto’s en video’s (wat hy van haar geneem het) vir haar werkgewer sal stuur, sou sy na die geselligheid gaan.
Sy het beweer dat mnr. Mulder geskenke wat hy tydens die huwelik vir haar gegee het, terug wou vat en haar gedreig het met die polisie, as sy dit nie wou doen nie. Sy het 68 bladsye met Whats App-boodskappe tussen haar en mnr. Mulder as bewyse tydens haar beskermingsbevel ingedien.
Nog een van sy vroue het in ‘n beskermingsbevel gevra dat mnr. Mulder “moet ophou om die kinders aan te rand en te dreig en dat hy nie hul huis mag betree nie.”
• Op die vraag of mnr. Mulder weet dat daar ‘n lasbrief vir sy arrestasie was in 2012, omdat hy die bepalings van ‘n interdik oortree het, het hy gesê dat hy “nie bewus is van so iets nie.”
•Die saak teen me. Mulder is uitgestel na volgende jaar.

