Slaggat eis nog ‘n lewe
'n Welbekende sjef is Woensdag omstreeks 12:00 in 'n ernstige ongeluk op die Stoffbergpad dood, toe sy bakkie 'n slaggat tref en hy beheer oor die voertuig verloor het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Mnr. Andrew van Wyk (28), ‘n sjef by Mbidi Lodge en mnr. Reghardt Schaeffer (algemene bestuurder by Mbidi Lodge) het na Stoffberg gery om lusern vir die diere op te laai. Met hul terugkeer na Mbidi Lodge, ongeveer vyf kilometer buite Stoffberg, het hul ‘n slaggat getref met die linker voor-en agterwiel van die Ford Bantam bakkie wat hul bestuur het.
Mnr. Van Wyk het die voertuig bestuur en het met die slag beheer oor die voertuig verloor.
Beide insittendes is uit die voertuig geslinger.
Mnr. Schaeffer is na Life Midmed vervoer vir laserasies en is dieselfde nag nog ontslaan.
Mnr. Van Wyk is oorspronklik vanaf Nelspruit.
“Dit was met groot skok en hartseer dat ons kennis neem van die ongeluk waarin twee van ons sterre by Mbidi Lodge betrokke was. Mnr. Van Wyk en mnr. Schaeffer het vyf jaar gelede vir dieselfde pos aansoek gedoen by Mbidi Lodge en beide is aangestel omdat daar nie tussen die twee gekies kon word nie.
Beide is baie gewilde, vriendelik en hardwerkende mense. Die hele Ramela Ranch rou oor mnr. Van Wyk. Ons wil hiermee ons meegevoel betuig met sy ouers, familie en sy vriendin. Andrew was ons almal se vriend.
Altyd vriendelike en hulpvaardig en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Ons gaan hierdie jongman wat in die fleur van sy lewe tot Hoër diens geroep is, mis. Ons gebede is ook met mnr. Schaeffer en sy vrou, Leoni, asook hulle familie.
Ons wens hom ‘n spoedige herstel en beterskap toe,” sê die personeel van Mbidi Lodge.

