Hond was hondsdol
'n Hond wat twee weke gelede uitgesit is, is positief getoets vir hondsdolheid.
‘n Gesin het vanaf Moketsi (naby Tzaneen in Limpopo) na Middelburg verhuis en kort na hul aankoms op die dorp, het hulle agtergekom hul windhond (Great Dane) “tree snaaks op”.
Hulle het die dier na ‘n plaaslike veearts gevat, wat aanvanklik gedink het dat daar ‘n wurm in sy brein is.
Toe die hond skielik aggressief raak en nie meer behoorlik kon sluk nie, is hulle na die Dierebeskermingsvereniging. Tipiese tekens van hondsdolheid is dat ‘n mak dier aggressief raak en nie kan sluk nie, omdat die spiere in die slukderm verswak.
Die hond is uitgesit en sy brein vir ontleding weggestuur.
Daar is hierdie week bevestig dat die hond hondsdol was.
Staatsveearts, dr. Shepherd Matema, sê daar is geen rede tot paniek nie, aangesien die dier die virus opgedoen het in Limpopo en nié in Middelburg nie.
Hy het die twee ander diere wat saam met die besmette hond op die erf was, vir 10 dae onder kwarantyn gehou, maar hulle het geen simptome gewys nie en is teruggevat na hul eienaars.
Dr. Matema sê dat mense moet seker maak dat hulle diere ingeënt is teen hondsdolheid.
• Persone wat dit nie kan bekostig om hul honde by ‘n privaat veearts teen hierdie gevreesde siekte in te ent nie, kan dit gratis laat doen by die staatsveearts kantore (langs die DBV).
• Die tipiese simptome van hondsdolheid is wanneer wilde diere “mak” voorkom en na mense of troeteldiere kom.
Wanneer daar aan hulle gevat word, sal hulle byt.
Die simptome van hondsdolheid by honde is: aggressie, getjank, aanvalle sonder vorige waarskuwing, kwyl, hap na denkbeeldige vlieë, staar, loop doelloos rond, oop bek (onderkaak val oop), onvermoë om te sluk, vreet stokke en klippe, versmoring, opgooi, loop moeilik en verlamming.
