News

Vlamme verswelg bestuurder

Die Zonnebloem Boerdery se werskwinkelbestuurder is Sondagmiddag, terwyl hy teen 'n wegholvuur baklei het, deur vlamme verswelg. Hy is vroeg Maandagoggend oorlede.

Hendry Schutte (55) het vir Gideon Anderson gewerk en was deel van die Zonnebloem span.

Sy vrou, Adri, het vertel dat haar man, wat die naweek op diens was op die plaas, reeds die Saterdagnag uit is om te gaan vuur slaan. Sondagoggend is hy ouder gewoonte beeste toe waar hy ‘n wakende ogie gehou het want die koeie is besig om te kalf.

Omstreeks 12:00 het hy die huis ingestorm en vir Adri gevra vir ‘n bottel water en ‘n appel. Sy gaan gewoonlik saam met hom as hy moet vuur slaan maar hy het haar hierdie keer oortuig om te bly omdat sy sukkel met griep. Hy het sy selfoon by die huis gelos om te laai omdat dit pap was en haar foon gevat.

Skaars 45 minute later het Hendry se foon gelui.

“Dit was Kirch, die plaasbestuurder, hy het net vir my gesê ek moet Midmed toe ry want hy jaag met Hendry soontoe want hy het gebrand,” vertel Adri.

Kirch Muller is steeds getraumatiseerd deur Sondag se gebeure. Hy vertel dat die vuur Sondag weer opgestaan en oor ‘n pad gespring het. Hulle het die draad geknip tot in die buurman se plaas om die vuur te probeer keer, voor dit die kamp waar die koeie wat kalf loop, bereik.

Hy het bestuur en Hendry het die spuit beman. Skaars 20 meter vandat hulle deur die grensdraad is, het Kirch gesien Hendry sukkel met die spuit. Hy het uit die bakkie geklim om hom te help.

Die wind het skielik gedraai en ‘n golf vlamme het tot teenaan die bakkie se neus gelek. Kirch het terug in die bakkie gespring en agteruit gery. Die laaste wat hy gesien het was hoe Hendry struikel en toe is die vlamme bo-oor hom.

“Ek kon niks doen nie. Die vlamme was net te groot.”

Hendry het sekondes later uit die vlamme gestap gekom. Sy klere en skoene was van sy lyf af gebrand. Op sy lyf het van die vlamme nog gebrand en iemand het dit met ‘n vuurspuit probeer blus.

Voor Hendry in die bakkie geklim het, het hy sy arms uitgestrek. Die velle het soos going-lappe daarvan af gehang en hy het gesê “Aggenee, net nie dit nie.”

Kirch het met Hendry Midmed toe gejaag. Oppad soontoe het hy Hendry se vrou gebel asook die ambulans om hom halfpad te ontmoet.

Hendry het vir hom gesê: “Ek dink jy moet maar ry. Ek glo nie die ambulans gaan ons kry nie.”

By Midmed wou die dokters nie hê dat Adri haar man dadelik sien nie. Sy is later in ‘n kamertjie ingeroep en gesê dat sy haarself moet voorberei vir die ergste. Die dokter het gesê dat hy derde graadse brandwonde oor 98% van sy lyf gehad het. Al wat nie gebrand het nie, was sy voetsole. Van die brandwonde het tot teen die been gebrand.

Teen 17:00 is Hendry per helikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. Adri het elke moontlike oomblik langs sy bed gewaak. Sy is vir ‘n rukkie uit die kamer om water te gaan drink, maar personeel het haar teruggeroep en sy het na die kamer gehardloop.

Op die lewensonderhoudende masjien se skerm kon sy sien hoe daar iets aftel van tien tot by nul. Hendry is net voor 06:00 dood.

Hy het vir die afgelope twee en ‘n halwe jaar by mnr. Anderson gewerk. Adri glimlag as sy haar man van die afgelope 20 jaar beskryf.

Hulle het ontmoet toe sy as jong verpleegster gewerk het en hy by sy ma, wat die eetsaal matrone was, gekuier het.

Terwyl ek kos ingeskep het, het hy agter die toonbank gesit en vir my gesê: “Hallo, ek weet nie wat jou naam is nie, maar ek gaan nog met jou trou.”

Die paartjie is in Oktober 1995 getroud. Adri vertel met trots van haar hardwerkende man wat vroegoggend uit is en laataand teruggekom het. As hy by die huis kom het hy altyd ‘n bier geniet voordat hy tot drie borde kos verorber het.

Hy was ‘n uitstekende pa en ‘n liefdevolle man wat graag geloop en fluit het. Hendry het nie geglo aan kwaad wees nie. Selfs as hy deur mense te na gekom is, het hy nooit ‘n wrok gedra nie.

“Hy het heeltyd gepraat en gesê dat hy eendag sy eie plaas gaan hê. Ek glo daar waar Hendry nou is, boer hy op die mooiste plaas ooit.”

Hy laat sy vrou Adri, sy kinders Christine, Hendrik, Hentjie en Wilna, sy ma Stephanie, twee broers, ‘n suster, twee kleinkinders, uitgebreide familie en baie vriende agter.

Adri bedank die dokters en personeel by Midmed Hospitaal, die helikopter se paramedici, Milpark se brandeenheid personeel en dokters vir hulle hulp. Sy bedank vir Gideon en Hannie Anderson asook vir Wilna en Igor en Deon en Tersia wat haar bystaan, rond ry en help met reëlings.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button