News

Rukwind pluk hom die lug in

Die finansiële bestuurder van die Life Midmed Hospitaal, mnr. Kobus van Wyk, is steeds besig om te herstel, nadat hy net 'n dag na sy verjaardag 'n valskermongeluk gehad het in eMalahleni.

Mnr. Van Wyk het ernstige voetbeserings opgedoen toe ‘n rukwind hom opgepluk het tydens die landingsproses.

Uit sy hospitaalbed by Life Midmed Hospitaal, waar hy tot vroeg hierdie week vir ‘n bloedklont in die long behandel is, het hy vertel van die fratsongeluk.

Mnr. Van Wyk sê dit was hy en sy vrou, Elizabeth, se eerste solospronge as lede van die Witbank Valskermklub.

Me. Van Wyk het eerste geland en het haar kamera gegryp om foto’s te neem terwyl haar man afgekom het om te land.

Deur die kameralens het sy gesien hoe hy net meters van die grond af deur ‘n rukwind opgepluk en met geweld op die grond gegooi word.

Mnr. Van Wyk het op sy voete geland en het met die harde slag sy linkerenkel en -hak gebreek, asook ligamente geskeur. Hy het ook twee tone gebreek en ligamente geskeur op sy regtervoet.

Hy is direk na die ongeluk by die Kosmos Hospitaal behandel, waarna hy na die Moot Hospitaal oorgeplaas is. Mnr. Van Wyk is vyf dae in die hospitaal behandel vir sy beserings en ontslaan.

Na ‘n paar dae tuis het hy siek geword en is opgeneem in die Wilgers Hospitaal waar bepaal is dat hy ‘n bloedklont in die long het. Hy is verlede week na die Life Midmed Hospitaal oorgeplaas, sodat hy nader aan sy gesin kon wees. Hy is Dinsdag ontslaan.

Weens die ernstige aard van sy beserings, sal mnr. Van Wyk nooit weer valskermspring as stokperdjie kan beoefen nie. Me. Van Wyk sê sy besluit nog of sy wil aangaan met die sport, aangesien hulle dit sáám beoefen het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button