NewsUpdate

Video: Skuldig vir moord op ‘mooi mens’

Skuldig! Dit was die uitspraak van waarnemende regter Andries Lambrechts in die moordverhoor van Papiki Mokwena en Eric Mtombeni in Middelburg. Hulle het die 76-jarige Sarel Janse van Rensburg vermoor.

Mnr. Janse van Rensburg was die bestuurder van Froggy Pond Farm in die Tonteldoos omgewing. Hy is 18 September 2014 deur Mokwena en Mtombeni in sy huis oorval en met ’n stomp voorwerp dood geslaan.

Voor sy dood was hy bekend daarvoor dat hy almal gegroet het met die frase “Hallo jou mooi mens.” Die gesegde is later aangeneem as Tonteldoos se slagspreuk en mnr. Janse van Rensburg het voor sy dood ’n t-hemp met die woorde ‘tonteldoos – jou mooi mens’ daarop ontvang.

Werkers het op hom afgekom, toe hulle na die plaashuis is om vir vleis te vra. Twee werkers op die naburige plaas het twee vreemde mans oor die grensdraad sien spring. Kort daarna het hulle gille van die Froggy Pond huis af gehoor en daarheen gegaan om ondersoek in te stel.

Mokwena en Mtombeni is op die Tonteldoos grondpad gearresteer nadat mnr. Jacques Nel hulle in die pad gewaar het. Terwyl Mtombeni in die pad deur polisiemanne voorgekeer is het Mokwena die hasepad gekies. Hy is in ’n Black Wattle bos gevang.

Regter Lambrechts het gesê dat alhoewel daar verskeie verskille in die staat se getuies was, geen getuie ooit homself weerspreek het nie en ook nie oor die meriete van die saak nie.

Hy het die uitwysings wat deur die beskuldigdes gemaak is, nie in ag geneem nie, omdat die polisie glo nie ag geslaan het op hul versoek om regshulp voor hul die uitwysings gaan doen het nie.

Die uitwysing van ’n vuurwapen is egter toegelaat omdat Mtombeni nie amptelik aangekla was toe hy dit gaan uitwys het nie.

Buiten vir die uitwysings, is Mokwena en Mtombeni deur bloed op hul klere en skoene, getuies wat hul naby die toneel opgemerk het, sowel as gesteelde goedere wat aan hulle gevind is of in die nabyheid van waar hulle gearresteer is, met die misdryf verbind.

Regter Lambrechts het gesê dat die beskuldigdes se getuies in geheel verwerp word as onwaarskynlik. Die mans is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Beide Mokwena en Mtombeni het daarna weer die beskuldigdebank bestyg om ter versagting te getuig. Mokwena het vertel dat sy pa dood is en dat hy tot Graad 7 skool gegaan het voordat hy weens siekte skool moes verlaat. Sy ma is werkloos en hy het drie broers en susters waarvan die oudste 10 en die jongste vier is.

Hy het gesê dat hy vir sy toekoms hoop dat God vir hom ’n permanente werk sal gee sodat hy vir sy familie kan sorg.

Terwyl Mtombeni getuig het, het Mokwena klip hard in die beskuldigdebank gesit en snik.

Mtombeni het self emosioneel geword toe hy moes verduidelik hoe hy voel omdat iemand sy lewe verloor het. Hy het egter aan staatsaanklaer Erik van der Merwe gesê dat hy steeds ontken dat hy by die misdrywe betrokke was.

Regter Lambrechts het die saak tot Donderdag uitgestel vir vonnisoplegging.

Lees vorige berig hier:

Bejaarde slagoffer van plaasmoord

Lees verwante berigte hier:

Aangerand en verkrag in plaasaanval

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button