NewsUpdate

Opvolg: Só is Neline opgespoor

Hardnekkige polisiewerk en inligting van die publiek was die twee hoof faktore wat bygedra het tot die suksesvolle opsporing van Neline van Zyl (13).

Neline het verlede Donderdag, net na 14:00, soos ‘n groot speld verdwyn. ‘n Grootskaalse soektog is geloods en die hele dorp het ingespring om te help soek.

Talle stories het die rondte gedoen, soos dat sy by verskeie kroeë, skoolgronde asook by ‘n sportbyeenkoms opgemerk is na haar verdwyning.

Die Middelburg Observer het in ‘n eksklusiewe onderhoud met ‘n lid van die ondersoekspan agter die ware feite bekom.

Die ondersoek na Neline se verdwyning het uit die staanspoor vinger gewys na ‘n spesifieke minderjarige seun (17).

Dit blyk dat die seun, wat intussen gearresteer is vir ontvoering, op daardie stadium by iemand geloseer het nadat hy uit Hoërskool Middelburg se koshuis geskors is. Hy is in Augustus gevra om die skool te verlaat.

Vermoedelike druk dat hy moet terugtrek na sy ouerwoning, en dus van Neline geskei word, blyk een van die faktore te wees wat tot die verdwyning van Neline gelei het.

Nadat Neline haar sakke by haar broer Ruan gaan los het, het sy agter die HTS Middelburg se gronde op ‘n motorfiets saam met die verdagte geklim en Groblersdal toe gery. Die ondersoek toon dat hulle met die N11, deur al die stop/ry punte gery het.

Hulle het beide hul selfone afgesit.

In die Groblersdal omgewing het haar vriend haar glo op die plaas waar hy saam met sy ouers woon, versteek. Die polisie was Vrydag op die plaas, maar is toegang geweier deur die verdagte se ma. Hulle het die Saterdag teruggekeer met ‘n lasbrief en die seun en sy ma is ondervra. Daar kon geen bewyse gevind word wat hulle op daardie tydstip met die voorval verbind het nie.

Teen Sondag is gevra dat die Valke by die ondersoek betrek word. Daar is toe besluit om die vermiste persone verslag na een van ontvoering te verander.

Die ma van die verdagte beweer dat sy Neline Sondagaand op die plaas ontdek het. Sy het toe glo summier aangedring om haar terug Middelburg toe te bring en het Verena om gery om die padwerke op die N11 te vermy. Naby Verena het Neline en die verdagte glo uit die voertuig gespring en die veld in gehardloop. Die ma het toe tot die volgende dag gewag om die polisie te kontak.

Die polisie het Maandag oral na die twee gesoek, maar hulle kon nie opgespoor word nie. Die honde-eenheid, berede-eenheid, spoorsnyers en polisiehelikopter is tydens die soektog ingespan.

Volgens die twee jongmense se weergawe het hulle reg deur die nag geloop, nadat hulle uit die bakkie gespring het.

Hulle het deur die veld, asook met ‘n grondpad langs geloop, waar hulle uiteindelik Maandagoggend deur ‘n persoon wat by ‘n gastehuis in die Loskopdam omgewing gewerk het, opgelaai is.

Die gastehuis is naby die Damwal kompleks geleë maar word op versoek nie bekend gemaak nie.

Die verdagte en Neline het toe van Maandag tot Woensdag by die gastehuis gebly teen die normale oornagtarief. Die seun het geld by hom gehad waarmee hy betaal het.

Die gastehuisbestuurder beweer dat hy op daardie stadium onbewus was dat daar naarstigtelik na Neline gesoek word. Hy wou Donderdag nie kommentaar lewer nie.

Owerhede is oortuig dat die gastehuisbestuurder die waarheid praat. Dit was sy vinnige optrede, toe hy uiteindelik besef wat aangaan, wat tot Neline se opsporing en die verdagte se arrestasie gelei het.

Middelburg Observer plakkate is daar naby opgesit.

Die moontlikheid dat hy egter op ‘n latere stadium klagtes in die gesig kan staar as die ondersoek afgehandel is, bestaan wel.

Met behulp van die bestuurder se inligting, is die verdagte deur die ondersoekspan en lede van die Groblersdal polisie vasgetrek, terwyl hy oppad was na Groblersdal. Neline is kort daarna by die gastehuis gekry.

Sy het ‘n denim langbroek en T-hemp aangehad. Daar is glo vir haar klere by ‘n winkel in Groblersdal aangekoop.

Beide is toe Woensdagmiddag na Groblersdal geneem om dokumentasie af te handel voordat hulle dieselfde dag Middelburg toe gebring is. Neline is na haar ouerhuis terwyl die verdagte die nag in die Middelburg Polisiestasie se selle deurgebring het. Omdat hy minderjarig is, moes hy apart, buite die bereik van volwassenes, aangehou word.

Die minderjarige se ma is nie op hierdie stadium aangekla nie, alhoewel daar tans ‘n ondersoek teen haar is. Maroela Media het raadslid Rehana Pilodia Woensdag aangehaal dat sy ook gearresteer is, maar dit is nie waar nie.

Daar bestaan ‘n moontlikheid dat daar nog kriminele klagtes teen die minderjarige verdagte gebring kan word soos wat die ondersoek ontvou. Hy sal waarskynlik Vrydag (vandag) in die hof verskyn. Al word die verdagte in Oktober 18, sal hy as minderjarige verhoor word omdat die beweerde misdryf gepleeg is terwyl hy 17 was.

Verskeie mense en groepe het gehelp met die ondersoek. Een persoon wat egter by name uitgesonder word is Lt.kol Estelle van Schalkwyk wat onverpoosd gewerk het en in die laast paar dae bittermin geslaap het. Die honde-eenheid en berede-eenheid is ook genoem vir hulle waardevolle bydrae. Die ondersoek is hanteer deur die Valke en Misdaad Intelligensie, sowel as lede van die Middelburg polisie, en die honde- en berede-eenhede.

Neline gekry!

English – They found Neline

Video: Parents plead for return of missing daughter

Video – Opvolg: Beloning vir Neline

Opvolg: Dorp vat hande en soek Neline

Opvolg: Gemeenskap soek maar geen Neline

Opvolg: Nog niks oor Neline

Neline steeds weg

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button