News

‘Dit was die Here se teken’

'n Kaak met haar seuntjie se kenmerkende skewe tandjie was 19 jaar gelede "die teken van die Here" dat haar kind nie meer leef nie.

Me. Susan Matthysen sê daardie dag het sy uiteindelik gewéét haar negejarige seuntjie, Carel, is dood en sy het snikkend tussen die bosse “gebreek.”

Alhoewel sy berus met die feit “dat Careltjie se plek in die hemel by God was,” wonder sy na 19 jaar steeds wie of wat vir haar kind se dood verantwoordelik was.

“Die dag toe Rudi Neethling my laat weet het dat ‘n beeswagter Carel se klere gekry het, het ek nog vas geglo hy leef. Ek het vir die Here gevra om vir my ‘n teken te gee as my kind dood is.”

Lt-kol. Rudi Neethling het hulle na die plek, langs ‘n boom, geneem om afskeid te neem.

Op dieselfde dag is ‘n skedel met ‘n bokaak nog daaraan vas, gevind.

“Toe ek die tandjies sien, het ek geweet dit is die Here se teken. Careltjie se tandjies was mooi reguit, maar aan die kant van sy bokaak, het die een tandjie oor die ander een geklim. Ek het dadelik sy tandjies herken.”

Twee maande na haar kind se verdwyning, op 28 September 1996, het hulle sy oorskot begrawe.

Sy onthou die gebeure asof dit gister was en pakke koerantberigte, van onder andere die Middelburg Observer en nasionale dagblaaie, maak deel uit van die hartseer verhaal.

“Ek wou nie na die plaas toe gaan nie en het dit daardie dag in Julie 1996 vir my ma ook gesê, maar Careltjie was só opgewonde. Hy het gesê: ‘Kom Mammie, Pappie het klaar gepak!”

Die Matthysens, wat in Springs bly, was destyds nog nooit op ‘n wildsplaas nie, en was baie opgewonde toe hulle verneem dat hul buurman, mnr. Cois Steenkamp, na sy pa, Floors, se plaas gaan.

Die gesin, mnr. en me. Tom en Susan Matthysen, asook hul kinders Carel (9), Santie (12), Marié en Bennie (7), het saam met hul buurman, mnr. Cois Steenkamp, gery. Die oudste dogter, Yolandi, het by haar ouma gebly.

Die groepie het die Vrydagaand in Middelburg oorgeslaap en is Saterdag na die plaas, Duikerkrans (Roossenekal omgewing).

“Daar was nie ‘n huis op die plaas nie. Ons sou in tente oornag, maar ‘n plaaswerker se vrou het aangebied dat ek en die kinders die nag in haar huisie sou oorslaap, aangesien die jong meisies besig was met ‘potslaan’ en hul seuns by die ‘bergkamp’ (inisiasie skool) was. Die mans sou die nag gaan jag.”

Santie en Carel het saam met mnr. Steenkamp gery om hout te gaan haal vir die aand se vuur.

Hy het ‘n ent gery, sy bakkie gestop en verder gestap om hout te gaan kap. Carel en Santie het agterop die bakkie vir hom gewag. Toe sy begin koud kry, het sy in die bakkie geklim. Carel het agterop bly sit.

Sy het later vertel dat Carel wou terugloop na die kamp toe, maar sy het vir hom gesê om te wag. Op ‘n stadium het daar ook ‘n man verby die bakkie geloop.

Kort hierna het mnr. Steenkamp teruggekeer. Met hul aankoms by die kamp, het hulle besef die seun het nie by die kamp opgedaag nie en het die soektog begin.

In die koerantberigte word vertel hoe daar vir meer as ‘n maand elke leidraad opgevolg is. Selfs sieners het met allerlei “leidrade” na vore gekom.

Tot op die dag wat die kakebeen gevind is, het me. Matthysen vas geglo haar seuntjie leef nog.

“Ek het eers agterna gehoor dat daar toordokters in daardie omgewing was. As ek dit geweet het, sou ek nooit my kinders soontoe geneem het nie!”

Sy sal altyd wonder wat daardie dag met haar kind gebeur het, sê me. Matthysen. “God weet egter wat is die waarheid en wie ookal iets daarmee te doen gehad het. Ek mag egter nie iemand kwalik neem nie. Die oordeel kom God toe.”

• Die Matthysens het met die grootste lof van lt-kol. Neethling gepraat. “Ek haal my hoed af vir Rudi. As persoon het hy ons deur dik en dun bygestaan. Hy het destyds alles in sy vermoë gedoen om ons kind te kry.”

‘n Ma en polisieman onthou

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button