Video: Voorwaarts sonder die Datsun
A man may choose one over another but to Heaven and Earth all are the same The high, the low, the great, the small...all are given light all get a place to rest... Tao te Ching.
Tussen olie en ghries het twee swaarkry hande Dinsdag in ‘n ou afgeleefde Datsun, wat hulle eens huis genoem het, rondgekrap… en toe met ‘n pienk kaartjie vorendag gekom waarop daar staan: “You fill my heart with love”.
Dit is die twee teenstellings van die dorp se swerwerspaar, Rassie en Janetta Botha. Swaarkry, swerf, sukkel, maar die grootste hiervan is die liefde…
Die egpaar se motor is Vrydag geskut toe die waarnemende direkteur van openbare veiligheid, Pamela Mkosi, hulle naby die Kees Taljaard Stadion se ingang ingang gewaar het.
Sedertdien bly die egpaar op straat. Sosiale media het gegons nadat ‘n berig oor die egpaar se lot op www.mobserver.co.za verskyn het.
Daar is vinger gewys, maar dit het niks verander aan die feit dat Rassie en Janetta oor die naweek in stegies hul lêplek moes kry nie.
Teen Maandagmiddag het ‘n weldoener hulle by die Engen vulstasie in Kanonkop opgespoor, na sy huis gevat en vir hulle ‘n warm bad, kos en slaapplek gegee.
“Hy kom soek ons altyd,” verduidelik Rassie. Dinge was egter beknop met die gesin en die Bothas saam in ‘n tweeslaapkamer woonstel.
Nog ‘n weldoener het aangebied om hul “waardevolle items” by sy huis in Kanonkop te stoor. Hy het die egpaar Dinsdag na die skut vergesel met sy bakkie om hul besittings op te laai.

Die Botha egpaar se hele bestaan is in een smerige kar opgehoop. Maar hoe arm hulle ookal aan aardse besittings mag wees, is hulle ryker as baie ander in die liefde. Rassie en Janetta werk soos ‘n goed geoliede masjien saam.
Hulle is amper 20 jaar getroud en gewoond daaraan om in beknopte omstandighede te leef.
“Het jy hom? Ja. Nou grip!” sê Janetta, voordat hulle ‘n tamaaie gereedskapkis uit hul kar tel en agterop die bakkie laai.
Om die kis daar uit te kry, moes hulle die kar se deur afhaal.
In wat vir buitestaanders soos ‘n kraaines lyk, weet hulle presies waar wat gebêre is. Hul hande werk vinnig en vlytig om die regte goed raak te vat, soos ‘n piepklein draadsnyer, so groot soos ‘n vrou se knyptangetjie, waarvoor sy haarself sou dood soek in haar grimeertassie.
Tussen die deurmekaarspul van boutjies, elektriese drade, sonkrag gloeilampe en rekenaar parte, lê ‘n helder pienk plakker waarop daar staan: ‘You fill my heart with love.’
“Ons het nooit tyd gehad om dit op te plak nie,” sê Janetta, voor sy die plakker in ‘n plastieksak tussen ‘n paar vuil kledingstukke indruk.
Daar is sprake dat hulle die kar uit die skut kan kry, maar hulle het nie plek om dit heen te sleep nie. Die kar is as te ware ‘n gereedskapkis op wiele. Hoe hulle lê tussen alles kon slaap, bly ‘n raaisel.
Die weldoener wat die Botha’s se gereedskap stoor, het hulle vir ‘n paar dae blyplek in ‘n wendyhuis op ‘n plot gegee.’n Langtermyn plan is daar nie.
“Ek was so amper op my voete,” prewel Rassie. “Ek het al ‘n mooi kar en ‘n huis gehad. Ek kan dit weer doen.”
• Indien daar iemand is wat ‘n oplossing vir die egpaar het, kan hulle die Middelburg Observer kontak by jana@mobserver.co.za of 072 248 3855.
Video: Datsun couple ‘fumigated’ out of car
Video: Egpaar nou in Joubertstraat
