Opvolg: Soektog na aanvallers duur voort
Boere het dwars deur die nag gesoek na die aanvallers wat die Du Toit gesin gister op hul plaas in die Laersdrift omgewing oorval het.
’n Geskatte 12 aanvallers het in twee voertuie gery en is op ’n plaaspad voorgekeer na vinnige reaksie van boere in die omgewing.
’n Skietgeveg het tussen boere en die swaar gewapende rowers uitgebreek, die aanvallers het hul voertuie agter gelaat en in die bos ingevlug.
Hulp vanuit alle oorde het na Laersdrift gestroom. Meer as 100 boere, polisiebeamptes, privaat sekuriteitswagte en twee helikopters, een in privaat besit en een wat aan die polisie behoort, het aan die soektog deelgeneem.
In die chaos wat geheers het was dit onduidelik hoeveel verdagtes vasgetrek is. Daar is vroeër berig dat een van die aanvallers noodlottig gewond is, maar dit kon nie Woensdag bevestig word nie.
Een van die persone wat aktief by die ondersoek betrokke is kon wel bevestig dat daar vier verdagtes gearresteer is, almal met skietwonde.
Die soektog is Woensdagoggend voortgesit met die jongste nuus dat ’n vyfde moontlike verdagte gewaar is. Boere was teen druktyd in die proses om hom te vang.
Almal is dit eens dat die aanvallers daarop uit was om te moor. Die boere se optrede het veroorsaak dat die land nie nog ’n Treurgrond beleef nie, die film wat op plaasmoorde fokus.
Hulle het die plaas net na 09:00 Dinsdagoggend oorval en begin skiet.
Lees vorige berig hier:
Nuusflits: Twaalf val boere aan
