News

Video: Sanna se groot dag…

“Enjoy, today is the day...” het die boodskap op ’n huweliksgas se hempie uitbasuin. Susan Coetzee (54) en Raymond Els (42) het Woensdag die daad by die boodskap gevoeg.

Die beknopte en benoude kantoortjie van Binnelandse Sake kon nie hulle geluk demp nie. Dit was hulle groot dag, hulle troudag.

Hier in die vaal staatskantoor kon jy Korintiërs 13 aanvoel…“en die grootste hiervan is die liefde”.

Sommer daar in die kerk se parkeerterrein het Sanna, soos ons haar by die koerant ken, my verlede week getakel: “Ek trou Woensdag, jy moet my troufoto’s kom neem”. Raymond, haar verloofde, het net heeltyd geprewel: “Ek is lief vir hierdie vrou…”.

’n Week is ’n lang tyd. En soos die week aangaan vergeet van Sanna en haar groot dag. Word Woensdag wakker, met Sanna se beeld hier helder voor my. Skrik skoon. Dis haar troue én jy het belowe.

Toe die dokumentasie voltooi moes word het hulle kiertsregop voor die lessenaar gaan staan.

Die “I Sanna, take Raymond to be my wedded husband, to have and to hold, from this day forward, for better, for worse, for richer, for poorer, in sickness and in health, to love and to cherish, till death do us part” is met bietjie hulp en aanmoediging klaargekry.

Regterhand; linkerhand; het mooi dink gekos.

Toe daar vir Sanna gevra word wat haar nuwe van moet wees het sy trots geantwoord: “Els!”

Die Observer se Elaine Neethling het die seën oor die huwelik uitgespreek en help dat die ringe aan die regte vingers gesteek word.

Toe die aankondiging kom dat hulle nou man en vrou is, het Raymond vir Sanna vasgevat…soos in een van daai Hollywood liefdesflieks, hy het haar lank en innig gesoen.

Buite het ’n rooi Audi op die pasgetroude paartjie gewag.

Iemand het gefluister: “Ons het nou nie eers vir haar blommetjies gebring of confetti nie”.

Maar hulle was nie bekommerd oor blomme en konfetti nie, net oor die Rooi Audi, die Audi wat hulle Olifants River Lodge toe sou vat, op honeymoon.

En toe die Audi wegtrek, glimlag hulle deur die venster, en jy dink weer aan Korintiërs 13…“en die grootste hiervan is die liefde…”.

Sanna Els en haar nuwe man, Raymond, met die rooi Audi wat hulle weggevat het op ’n wittebrood, twee aande by Olifants River Lodge. FOTO: Tobie van den Bergh.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button