Gay nie okay sê NG Kanonkop
Die eerste salvo teen gay verbintenisse en homoseksuele predikante is Woensdag deur NG Kanonkop gevuur, en hoewel die kerk sê sy deure is oop vir alle mense, sal daar nie gou 'n pienk predikant op Kanonkop se kansel staan nie.
Die kerk se dagbestuur sê dat die Skrif dikteer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.
“Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom, is tussen een man en een vrou, waar Christus die middelpunt is,” het die dagbestuur in ‘n skriftelike verklaring aan die koerant gesê.
Die kerk deins natuurlik soos al sy eweknieë weg van die etiket “gay” en sinspeel daarop dat daar vergifnis is vir die beoefening van homoseksualiteit, soos alle ander sondes, deur beleiding.
Die gay gemeenskap sluit lesbiërs, biseksuele en transseksuele mense in.
“Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard, kan hy of sy nie in ‘n leiersposisie, soos leraar, personeellid, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder, in die NG Kanonkop gemeente dien nie,” maak die kerk dit duidelik.
Die kerk frons nie net op homoseksuele en eksperimentele oriëntasies nie, maar sê ook dat seksuele verhoudinge buite die huwelik taboe is.
Nietemin sê die kerk: “Ons wil steeds as gemeente die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied”.
Die algemene sinode van die NG bediening het besluit om burgerlike verbintenisse, oftewel gay huwelike, goed te keur, en dat kerkrade en predikante hulle eie standpunte daaroor kan hê, soos Kanonkop.
Kanonkop het nie gras onder die voete laat groei om standpunt in te neem nie, waar die ander plaaslike gemeentes eers bietjie herkou aan die sinode se besluit.
Volgens ds. Marnus Geyser van NG Dennesig, vergader die kerkraad op 28 Oktober waartydens ‘n formele besluit oor die aangeleentheid geneem sal word.
Ds. Wielie van Wyk van NG Suid sê dat hy en sy drie kollegas reeds in bespreking is oor die kerk se formele standpunt wat dan met die kerkleiers tydens eerskomende Dinsdagaand se kerkraadvergadering bespreek sal word.
“Ons wil eers haarfyn deur die sinode se besluit gaan, voordat ons in oorleg met die raad, ‘n pad vorentoe sal baan,” sê ds. Van Wyk.
Ds. Petrus Moolman van die Gholfsig se Ligkruis gemeente sê dat sy kerk se besluit moontlik sonder hom geneem sal word, omdat hy oor twee weke sy amp daar sal verlaat.
Hy sê dat die kerkraad eers in November weer vergader en daar dan ‘n formele besluit geneem sal word.
Geen van die predikante wou hul persoonlike mening lig rakende die besluit wat dreig om die NG kerk te skeur nie.
