Editor's noteNewsUpdate

Opvolg: Moord se vernietigende gevolge

Die skok van mnr. Norman Aarons se moord Vrydag tydens 'n huisrooftog, was te groot vir sy vrou Elsa. Sy is Maandag in Denmar Kliniek opgeneem en gaan haar man se begrafnis mis.

Haar ontembare hartseer is nie wat die hegte familie bedreig nie, maar armoede.

Mnr. Aarons was nie net die gom wat die familie aan mekaar gehou het die afgelope 40-jaar nie, hy en sy skoonseun was ook die enigste broodwinners wat die R7000 huur moes deel, en dan die res van die maand moes raap en skraap vir kos.

“My ouers het mekaar in die biblioteek ontmoet, my pa ‘n rou Engelse hippie van Johannesburg, en my ma ‘n stoere boervrou van Ottosdal, dit was liefde met die eerste oogopslag!”.

Hulle yskas, wat al maande lank gasloos was, is Sondag deur ‘n oud-kollega gevul, en loop weer, maar hy’s leeg.

Nog ‘n gesin is op sy knieë weens misdaad.

Mnr. Aarons is koelbloedig doodgeskiet voor Elsa, sy dogter Andrea, en sy vyfjarige kleinseun, Liam, wat elke aand knus tussen sy oupa en ouma geslaap het.

Mnr. Aarons se hande was in die lug, maar steeds het dit nie die bloeddorstige rower gekeer om hom met die intrapslag in die kamer, terwyl twee van sy makkers klaar vir mnr. Aarons oorval het, te skiet nie.

Al waarmee hulle op die vlug geslaan het was ‘n skootrekenaar, selfone en die enigste kontant wat die gesin vir die res van die maand se oorlewing in hul beursies gehad het.

In die nederige Wesstraat huisie is die liefde tasbaar.

Eric sê dat daar geen ongespreekte woorde tussen hom en sy pa was nie, en die laaste woorde van sy pa wat in sy ore weergalm is: “Seun ek is lief vir jou”.

“Ek het een comfort en dit is dat my pa baie trots was op my,” het Eric Woensdag bedroef in die sitkamer waar die drama Vrydagaand begin het, vertel.

“Om te dink my pa se liggaam lê, net ‘n honderd of so meter vanwaar hy agt jaar na ons omgesien het, is…, woorde ontduik,” het Eric se tong hom in die steek gelaat.

(Mnr. Aarons se oorskot is by Roseleigh Begrafnisondernemers in Wesstraat).

Saterdag na die moord het hy homself gevang waar hy ‘n uur in sy pa se kar gesit het, wagtend vir hom.

“As ek hier was het ons heeldag aan ons karre gewerk, ek het nog sy klanksisteem ingesit, en toe ek sy kar Saterdag aansluit was die klank eers oorverdowend, maar toe my emosies bedaar, het Nickelback se Photograph my hart deur die luidsprekers gestreel, was dit nie so gepas nie?”

Wat sê mens?

“Ek is nie kwaad nie, my Here is groot, die moordenaar kan maar sy tyd hier op aarde geniet, maar as hy sterf, gaan hy vir ewig gestraf word, my pa is weg, dié wete is nou my anker,” sê Andrea.

Andrea en haar man Juan het gesit en rugby kyk, die hondjies het begin knor en Elsa was onrustig. Juan het gaan ondersoek instel, maar is by die voordeur begroet met ‘n geweerloop teen sy neus.

‘n Rower het hom op die sitkamermat met die geweerloop teen sy nek laat “slaap” terwyl sy makkers die huis in is.

Mnr. Aarons is voor sy hangkasdeur deur twee oorval, toe hy gepoog het om sy wapen uit die kluis te haal. Die skieter het bloot om die kamerdeur geloer, geskiet, omgedraai en weggestap.

Die twee rowers wat mnr. Aarons oorval het, het sy liggaam voor die kasdeur weggeskop, en Elsa gedwing om die kluis oop te sluit.

Twintig minute later was alles stil.

Juan het na die besigheid langsaan gehardloop en die alarm geaktiveer, waarna hy ‘n kar op die Wesstraat/Beyers Naude kruising voorgekeer, en gesmeek dat die twee mans en twee vroue ‘n ambulans ontbied.

Sekondes later het ‘n Mid Alarms kollega by die moordhuis gestop en is die polisie ontbied.

Die selfone wat die rowers gesteel het was té oudtyds vir hulle en die fone is een vir een die volgende dag deur Eric en Juan in die veld waardeur die rowers te voet gevlug het, opgetel.

Mnr. Aarons se lewe was eindelaaste net ‘n ou skootrekenaar en R800 kontant werd.

Tientalle mense het al die Observer in ongeloof gebel oor die vriendelike man wat nie ‘n vlieg sou skade doen nie.

‘n Kassiere by die Spar het Saterdag vir Eric gevra “waar’s Norman, hy skuld my ‘n tjoklit,” – sê Eric, “Net om ‘n brood te gaan koop saam met my pa was ‘n beproewing, wat twee minute moes wees het in twee ure verander, want hy het eers grappies gemaak met almal, van die karwag tot die vrou wat die sakkies gepak het”.

Die tuinier wat agter in die Aarons se erf bly, het nie een aand honger gaan slaap nie, “al was dit net ‘n sny brood en ‘n eier wat ons maaltyd was”.

Die gesin sal die einde van die maand hul huis moet ontruim. Waarheen weet hulle nie.

Indien jy kan help, bel Juan by 071 357 6335.

 

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button