NewsUpdate

Opvolg: Hotel moet gesloop word

Die hooggeregshof in Pretoria het vir 'n tweede keer beveel dat die Nexbed Hotel in Laverstraat 13A gesloop moet word, maar mnr. Wiley Harrington het wéér teen die uitspraak geappelleer.

“Ek kan net sê dat ons reeds geappelleer het teen die uitspraak en ek sê weer, al gaan ek konstitusionele hof toe, ek gaan dit nié los nie! Ek glo deur ‘n ander regter kan ek ‘n ander uitspraak kry!” het mnr. Harrington Maandagoggend gesê.

Regter Cynthia Pretorius het in haar uitspraak gesê dat sy na beide die partye (Harrington en Contantine Panayodites) se regsverteenwoordigers se voorleggings gekyk het en staan by haar uitspraak vroeër vanjaar.

Sy het ook gemeld dat sy geen redelike vooruitsig sien dat enige ander hof tot ‘n ander gevolgtrekking sal kom nie.

Regter Pretorius het weer sy appèl van die hand gewys, met kostes.

Sy het al in Junie vanjaar opdrag gegee dat die hotel gesloop moet word.

Tydens die uitspraak is onder andere gesê dat die Steve Tshwete Munisipaliteit in growwe versaking van sy pligte was, deur nie te sorg dat die bevel, wat al in 2008 gegee is, uitgevoer word nie. “Hulle het selfs sover gegaan om kragte saam te snoer met die vierde respondent (mnr. Wiley Harrington)!”

Die hofsaak volg nadat mnr. Panayodites (beter bekend as Costas) ‘n aansoek gebring het tot die hooggeregshof na ‘n geskil oor die Nexbed Hotel.

Hy het met die geding begin nadat mnr. Harrington, volgens hom, alle boureëls verontagsaam het, deur onder meer ‘n meter in sy (Panayodites) se erf in te bou. Verder sê hy dat mnr. Harrington ‘n ou gebou gesloop het sonder die nodige toestemming.

Regter Pretorius het gesê dat mnr. Harrington versuim het om die nodige goedkeuring te verkry, asook dat die stadsraad versuim het om ‘n bevel van die landdroshof binne drie maande uit te voer, wat al op 1 Augustus 2008 uitgereik is.

Die munisipaliteit het in Maart 2008 aansoek gedoen vir ‘n interdik teen mnr. Harrington om alle verdere bouery op die perseel te stop. Daar is ook aansoek gedoen vir ‘n bevel om die gebou te sloop, sou hy versuim om bouplanne vir goedkeuring in te handig.

Op 1 Augustus 2008 het die munisipaliteit goedkeurig gekry om die gebou te sloop, sou mnr. Harrington nie binne drie maande weer bouplanne inhandig nie.

Daar is gemeld dat mnr. Harrington nie enige stappe geneem het om te appelleer by die hersieningsraad nie, alhoewel die landdros hom geadviseer het om dit te doen. “Hy het dit nie in die laaste sewe jaar gedoen nie.”

Daar is genoem dat mnr. Harrington ‘n nuwe aansoek gebring het vir goedkeuring van die bouplanne in Oktober 2008, nadat die gebou voltooi is. Hierdie aansoek is afgekeur. Hierna het hy aansoek gedoen vir die verandering van boulyne en gevra om munisipale grond te koop vir parkeringsdoeleindes.

Hierdie aansoek is ook afgekeur, waarna verskeie vergaderings tussen mnr. Harrington en die munisipaliteit gevolg het.

Later het mnr. Harrington aansoek gedoen om die stuk pad bokant die hotel in Laverstraat te koop en dit permanent te sluit.

Vir hierdie aansoek moes die munisipaliteit ‘n verkeersingenieur aanstel, om ‘n behoorlike verkeersstudie te doen oor die aansoek en ‘n verslag moes voorgelê word. Regter Pretorius het gesê dat niks daaruit voortgespruit het en geen verslag ingedien is nie.

Mnr. Willie Fouché (wat op daardie stadium munisipale bestuurder was) het destyds in ‘n verklaring gesê dat die slopingsbevel gestipuleer het dat mnr. Harrington binne drie maande bouplanne kon inhandig en dat hy dit wel in hierdie tyd gedoen het.

Mnr. Fouché het gesê dat die bouplanne nie goedgekeur kon word nie, weens sekere dorpsbeplannings tekortkominge ten opsigte van boulyne, voldoende parkering en vir die sloping van ‘n ou gebou.

Regter Pretorius het die wet op Nasionale Bouregulasies aangehaal, waar dit stipuleer dat geen persoon ‘n gebou mag oprig, sonder die skriftelike goedkeuring van die plaaslike owerheid nie.

Dieselfde wet maak voorsiening dat ‘n landdros die mag het om so ‘n persoon te stop of opdrag te gee dat die gebou gesloop word.

Volgens regter Pretorius het mnr. Harrington “volgens wet ‘n misdaad gepleeg!”

“‘n Toegeeflike benadering kan ‘n oop uitnodiging aan die gemeenskap wees om eiendom onwettig te gebruik met die hoop dat dit mettertyd gewettig word en indirek beskerm sal word deur die opskorting van ‘n interdik.”

Regter Pretorius het gesê dat die “aksies van beide partye so minagtend is deur willens en wetens die wet te oortree, dat ek voel dat ‘n spesiale kostebevel toepaslik is.” Dit behels dat die munisipaliteit en mnr. Harrington albei verantwoordelik is vir alle kostes van mnr. Panayodites op ‘n prokureur/kliëntbasis.

Regter Pretorius het die munisipaliteit in Junie opdrag gegee om uitvoering te gee aan die bevel van 1 Augustus 2008 deur die gebou te sloop. Sou die munisipaliteit nie uitvoering gee aan die opdrag nie, het die balju die mag om stappe te neem wat nodig is om te verseker dat die bevel uitgevoer word.

• Mnr. Harrington het tydens ‘n vorige onderhoud gesê dat die dispuut van Nexbed gaan oor parkering en die boulyne.

Hy was van mening dat mnr. Panayodites met die aksie begin het, nié omdat mnr. Harrington oor die boulyn gebou het nie, maar omdat mnr. Panayodites ook in die gasvryheidsbedryf is. Hy voel dit is ‘n persooonlike aksie.

Hy sê dat hy niemand benadeel het nie, maar werk geskep en ‘n groot kliëntetal opgebou het.

Volgens mnr. Harrington wil hy nog baie doen by Nexbed én ‘n groot hotel bou om sy aandeel in die gasvryheidsbedryf te vergroot.

Nexbed moet gesloop word

Al draai dit in konstitusionele hof

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button