News

Video: Kitsbanke gevandaliseer

Sekondes nadat ’n man se bankkaart vasgesit het in ’n kitsbank, het hy stukke van die kitsbank uitgeruk en daarmee weggery.

Twee kitsbanke is die afgelope week gevandaliseer.

Tydens die eerste voorval het werknemers van Faamid Motors (Shell Motorhawe, hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat) hulle Saterdagaand boeglam geskrik toe ’n man kort na 22:00 aan ’n kitsbank begin ruk.

Hy het geld probeer trek, maar die Standardbank kitsbankmasjien het sy kaart gesluk en via ’n video kan ’n mens sien hoe hy hom bloedig vererg. Hy stap ’n entjie weg om vir die mense in die winkel daarvan te sê en keer dan weer terug.

Die volgende oomblik ruk hy groot gedeeltes van die masjien aan stukke en loop onder meer met die sleutelbord weg.

Petroljoggies het die voertuig se registrasienommer neergeskryf en oorhandig aan mnr. Kobus van der Berg (reaksie-offisier van Trinity Protection Services). Hy het die dorp gefynkam vir die Mazda Drifter bakkie, waarna mnre. Johan Visser en Norman Khumalo (ook van Trinity) die volgende dag by hom oorgeneem het.

Volgens mnr. Visser behoort die voertuig aan ’n maatskappy vir wie die persoon werk. Hulle het sy werk gekontak en die persoon wat die masjien gevandaliseer het, se besonderhede gekry. ’n Klagte van opsetlike saakbeskadiging is geopen.

Teen druktyd was dit nog nie duidelik of iemand al in verband met die voorval aangekeer is nie.

• Dinsdag in die vroeë oggendure is daar ook ingebreek by die Absa kitsbanke langs Fashion World in OR Tambostraat. Die polisie was tot laatmiddag besig met hul ondersoek.

Absa se mediakantoor het net die voorval bevestig, maar niemand het ’n woord gerep of daar enige kontant gesteel is nie.

Die polisie se mediakantoor het gesê dat ’n inbraak by besigheid by hulle aanhangig gemaak is.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button