Meer navrae na vuurwapens
Die belangstelling na die aankoop van vuurwapens het beslis toegeneem na die voorval op Laersdrift waarin 'n bende aanvallers daarin gepoog het om 'n boer koelbloedig dood te skiet.
Griffin Tactical sê dat daar baie navrae was na wapens en die proses wat gevolg moet word om een aan te koop, in die laaste week. Safari Ammunisie sê ook dat die toenemende geweldsmisdaad ‘n impak op wapenverkope het.
Die debat oor die effektiwiteit van vuurwapens woed reeds ‘n geruime tyd, met drukgroep Gun Free South Africa wat meen dat wapenbesit nie bydra tot ‘n veiliger omgewing nie, maar eerder tot die toename van ernstige geweldmisdaad omdat boewe wettige wapens steel en dan vir misdaad gebruik.
Aan die ander kant van die draad is wapeneienaars dit eens dat dit nie wettige wapens is wat die probleem is nie, maar eerder onwettige wapens, soos die meer as 6 000 vuurwapens wat by die polisie weggeraak het, of gesteel is, wat in die hande van kriminele beland.
Landsburgers wat hulle in elk geval nie aan strenger wapenwette gaan steur nie.
Die Geneva Verklaring oor gewapende geweld en ontwikkeling se statistieke sê dat meer as 30 uit 100 000 mense gewelddadig in Suid-Afrika gesterf het in 2012.
Dit plaas ons land 12de op die ranglys met Swaziland en Lesotho in die top tien. Konflik lande soos Sirië en Afghanistan behaal van die top plekke op die lysie.
Sowat die helfte van die mense wat geweldadig in Suid-Afrika sterf, word met vuurwapens vermoor.
Omdat die Suid-Afrikaanse Polisie nie meer spesifieke statistieke oor wapengeweld bekend maak nie, is dit moeilik om tred te hou met die ware stand van sake op eie bodem en word daar swaar gesteun op internasionale navorsing syfers.
Plaasaanvalle tel volgens die polisie onder roof omdat dit glo deur die teenwoordigheid van geld en wapens gemotiveer word. Belange groepe soos Afriforum en die Transvaalse Landbou Unie hou tred van moorde en geweldsmisdaad op plase.
Volgens hulle was daar 27 moorde op plase in die eerste helfte van 2015 en het daar teen einde Junie 116 plaasaanvalle plaasgevind.
Wat ookal die presiese syfer is, dit is duidelik dat mense op plase uitgelewer en onveilig voel.
As Hans Jurgens du Toit nie ‘n wapen by hom gehad het nie, was die uitkoms van verlede Dinsdag se plaasaanval dalk anders, met nog vier mense se name wat by die bogenoemde 27 moorde gevoeg kan word.
Alhoewel daar beslis mense is wat die voorval by Laersdrift genoem het as rede vir hul skielike belangstelling in wapenaankope, meen H.J. van der Ahee van Griffin Tactical dat sportskiet ook ‘n groot aandeel het. Die sport het baie gegroei oor die laaste paar jaar.
Griffin Tactical het ‘n skietklub. Lede daarvan kan ten minste twee maal per maand aan ‘n kompetisie, een in Middelburg en een in eMalahleni, deelneem.
Tydens die kompetisie word “kontak-skiet” beoefen, waartydens die wapeneienaar na teikens skiet, terwyl hy rondharloop op ‘n baan en vanuit verskillende posisies.
Safari Ammunisie sê hulle bied basiese opleiding aan, wat nodig is om aansoek te doen vir jou wapenlisensie. Wapeneienaars is welkom om dan saam te oefen of hul skietbaan in die teenwoordigheid van een van hul opgeleide instrukteurs te gebruik.
Een van die boere wat by die voorval op Laersdrift betrokke was, het verlede week ook ‘n koeëlvaste baadjie by Griffin Tactical kom koop.
“Ons is nou in ‘n geveg om oorlewing. Dit is aardig as jou man ‘n koeëlvaste baadjie saam met sy kos en water vir die dag inpak,” het ‘n boervrou van Laersdrift vertel.
