Weerlig tref huis
'n Bliksemstraal het Woensdagmiddag 'n seun bewusteloos geslaan en 'n huis laat afbrand.
“Ek word beproef deur die Here, maar steeds is ek dankbaar, want my seun se lewe is gespaar,” sê Susan Albasini nadat hul huurhuis op Keerom (Elandslaagtepad) deur weerlig getref is en dit tot op die grond afgebrand het.
Me. Albasini was Woensdagmiddag in die dorp en Thinus, (‘n matriekleerling van Hoërskool Kanonkop), was tuis besig om te leer vir die matriekeksamen.
Hy is omstreeks 16:15 op die sitkamerbank deur die straal getref en was ‘n tyd bewusteloos. “Toe ek bykom was my onderlyf lam en ek kon nie loop nie.”
Daar word vermoed dat die skokgolf van die weerligstraal die oorsaak was van sy tydelike floute.
Thinus het dadelik sy ma gebel, vir haar gesê die huis is deur die weerlig getref en hy ruik rook. Hy kon nie nader aan sy ma se kamer kom nie, omdat die hele huis met dik bolle rook gevul was.
Die seun het outomaties gereageer, gehardloop om die gasbottel in die kombuis te gaan haal en na buite gehardloop.
Terwyl Thinus en die plaaswerkers begin het om die vlamme te blus met emmers water uit die watertenk, het boere uit die omgewing aangejaag gekom en met hul vuurspuiters ook op die vlamme losgebrand.
Drie brandweerwaens het by die groep aangesluit. “Al wat nog gestaan het was die kombuis en die seuns se kamers, maar die plafon het reeds gebrand en toe die brandweer daar ook die vlamme probeer blus, het die dak inmekaar gesak.”
‘n Mens sou dink die gesin sal in sak en as wees na die brand, maar dit is met innige dankbaarheid in haar oë dat me. Albasini probeer onthou vir wie sy dankie moet sê: “Die brandweer wou vir ons daar op die plaas ‘n tent opslaan. Al die werkers en boere, elke persoon wat probeer help het.
Die Familia Dei AGS Gemeente wat dadelik saamgespan en vir ons so baie kos en ander goedjies byemkaar gekry het, dankie! Daar is net te veel mense om almal te name te noem!”
Haar grootste dank gaan aan haar Hemelse Vader. “Ek het onlangs 30kg verloor en gewonder wat ek met al die groot klere gaan maak. Dit is nou alles verbrand. Jesus het my groot klere gevat en gaan vir my nuwes gee!”
• Die gesin gaan tans tuis by me. Albasini se ouer seun. Persone wat enigiets van huisware tot klerasie vir hulle wil skenk, kan haar bel by 082 504 5042.
• Sowat ‘n maand gelede is die huurhuis van die Van Dyk gesin, met die aangrensende woonstel van die Hagens, ook in vlamme verswelg. Beide die gesinne was net so dankbaar vir die ondersteuning en hulp wat hulle uit die gemeenskap gekry het. Die Van Dyks se dogter, Annika, is ook ‘n leerling aan Hoërskool Kanonkop.

