Kinders vrees Charlie Charlie
Charlie Charlie, 'n "demoniese speletjie," versprei soos 'n veldbrand onder kinders.
‘n Ma, het die Middelburg Observer kantore Woensdag woedend ingestorm nadat die skoolhoof, mnr. Riaan Kruger, haar die deur gewys het met die advies om slapende honde te laat rus.
Haar kind het by die skoolbadkamer ingestap, waar leerlinge besig was om die speletjie te speel.
Mnr. Kruger het die voorval bevestig, maar sê dit “word heeltemal uit verband geruk.”
Die skool het jeugberaders ingekry om leerlinge toe te spreek, oor die gevare van demone oproep, nadat ‘n junior kind by ‘n onderwyser wou weet wie Charlie is.
Mnr. Kruger sê as daar werklik ‘n probleem was, dat kinders daagliks die speletjie by die skool sou speel, sou hy baie meer voorvalle aangespreek het “omdat kinders uitpraat en dit kwalik my of die ander personeel se aandag sou ontduik”.
Die ma sê sy’s nie kwaad vir die skoolhoof nie, maar bloot besorg, dat ouers nie weet wat die kinders aanvang nie.
Die speletjie is soos talle ander van sy soort, gebasseer op vrae en antwoorde wat vir ‘n gees – Charlie Charlie – gevra word.
Hy antwoord bloot ja of nee op vrae.
In dié geval word potlode gebruik maar ‘n soortgelyke speletjie gebruik drie vuurhoutjies toegerol in toiletpaper, en hier word ja, nee of miskien geantwoord.
Mnr. Kruger, van Laerskool Kanonkop, sê dat nog geen ander voorvalle, waar die speletjie gespeel is, by hom aangemeld is nie.
Hy is besorg dat te veel aandag oor die saak, juis kinders se belangstelling sal prikkel.
Hyself en senior personeellede het reeds met die Graad een, twee en drie leerlinge gepraat oor die speletjie, terwyl jeugberaders ingeroep is om die gevare met Graad vier tot sewe leerlinge te bespreek.
Mnr. Alwyn Botha sê dat daar reeds met Laerskool Dennesig se Graad sewe leerlinge gesels is oor die speletjie, maar dat dit nog geensins posgevat het daar nie.
Mnr. Gerrie van der Merwe, hoof van Laerskool Middelburg, sê hy het te hore gekom van die speletjie by ‘n ander hoof, maar dat hy nog geen voorvalle by sy skool gehad het nie.
Hy deel die sentimente van mnr. Kruger wat deur die ma gaan spreek is, deur ook te sê mens wakker nie slapende honde by nuuskierige kinders aan nie.
“Ons sal voorvalle hanteer soos hulle opduik, maar ek kan seker tereg sê ons is gelukkig, want ek het nog nie ‘n enkele voorval gehad nie,” sê mnr. Van der Merwe.
Middelburg Primary se hoof, mnr. Renier Loubser, sê daar was ‘n enkele voorval by die skool wat dadelik aangespreek is.
“Die bestuur het ook ‘n waarskuwing aan ouers op die skool-kommunikeerder gerig, dat die speletjie nie geduld sal word nie, en daar teen oortreders opgetree sal word”.
Hy sê dat voorvalle individueel hanteer sal word “om te verhoed dat belangstelling onder kinders aangewakker sal word”.
Mnr. Loubser sê hyself bied karakterklasse aan Graad vier tot sewe leerders aan, en dat gesprekke oor dié tipe van gevaarlike speletjies opduik en aangespreek word.
Die skool het ook ‘n permanente berader.
Mnr. Pieter Fouché van Laerskool C.R. Swart was gewikkel in vergaderings en kon nie bereik word vir kommentaar nie.
Pastoor Renier Pelser, van die Kruisgenerasie Volle Evangelie Kerk, sê die spel moet beslis nie onderskat word nie en dit is natuurlik om nuuskierig te wees, maar daardeur die deur beslis kan oopmaak vir demoniese besetting.
“Dit het sy oorsprong in ouer speletjies soos glasie-glasie en die ouija bord en glasie-glasie wat gebruik is om afgestorwenes op te roep, die probleem is mense glo dit intensief en die deur vir die okkulte word dan oopgemaak,” sê pastoor Pelser.
Hy sê die enigste manier om dié probleem onder jonges die hoof te bied, is om Godsdiens in ons kinders te onderlê, wat elke ouer se plig is.
‘n Agtjarige dogtertjie het van die speletjie te hore gekom en wou nie meer bid nie uit vrees dat Charlie haar sou vermoor.
Die kind het vir weke sleg geslaap en daar moes bidkettings om haar gevorm word, wat wel ‘n positiewe effek gehad het, maar tyd geneem het.
‘n Selferkende medium van Middelburg, Erika Moolman, sê dis uit en uit demonies en dat wyle ds. Gerhard Botes, menigmaal demone uit jongmense gedryf het, “en dis jammer hy’s nie meer hier nie, want ons het hom nodig”.
Sy sê dat ouers nie besef wat hulle kinders doen nie, en dit lei tot lewenslange probleme by die kinders wat betrokke raak by dié okkultiese praktyke.
“Mense, jy roep nie geeste op nie, jy roep demone,” waarsku sy.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
