Opvolg: Jong ma ‘tereggestel’
’n Jong ma van twee seuns is Woensdag koelbloedig by haar werk tereggestel.
Mev. Cindy Swanepoel is deur ’n werker by ’n diesel depot in Belfast doodgeskiet, nadat hy ’n poligraaftoets ondergaan het. Hy het op ’n stadium gevra of hy ’n draai kan gaan loop.
Toe hy terugkom het hy twee skoonmakers in die kantoor gevra om na buite te gaan, voordat hy die wapen teen Cindy se kop gedruk en die sneller getrek het in die teenwoordigheid van ander werkskollegas en die poligrafis.
Cindy was die ma van twee seuntjies wat onderskeidelik in graad vier en vyf is.
Haar buurvrou, Marie Kotze, sê dat sy haar geken het vandat sy vyf jaar oud is. Haar eie dogter het saam met Cindy gewerk en was ook teenwoordig tydens die voorval.
Sy het Cindy as “’n baie oulike mens en uitstekende ma” beskryf. Cindy sou baie keer mev. Kotze se kleindogter kom haal om saam met haar en haar seuns koekies te bak.
“Sy was ’n regte moedertjie. Sy sou haar altyd oor almal ontferm. Mens weet nie wat in daai man se kop verkeerd gegaan het nie. Ek dink hy het dit verloor, toe hy besef hy gaan uitgevang word, en toe vat hy die ma van twee klein kindertjies weg.”
Sy sê dat Cindy en haar broer ’n paar jaar gelede hul ouers en ander sussie in ’n motorongeluk aan die dood afgestaan het.
Al het die Swanepoel huisgesin dinge nie breed nie, was daar altyd liefde. Cindy se twee goedgemanierde seuns was die getuie daarvan. Dit was van jongs af haar droom om eendag ma te word.
“Ek weet nie wat gaan nou van daardie twee kindertjies word nie. Cindy was altyd die sterk een in daardie gesin. Wie gaan na hulle kyk? Ons almal hier sal maar na hulle kyk. Hulle is die oulikste twee kinders.”
Mev. Kotze sê dat sy self al ’n paar keer in die loop van ’n pistool vasgekyk het.
“Ons moenie haat nie. Jy weet nie wat in ’n ander man se lewe aangaan nie, wat hom daartoe gedryf het om so iets vreesliks te doen nie. Mense sal sê dis maklik om te sê want dit is nie my kind wat daar in die lykshuis lê nie.
Maar Cindy was soos my kind. Hoe moet daardie seuns nou die lewe hanteer? Ons leef in ’n land waar mense mekaar haat. Hulle is nou slagoffers daarvan.”
• ’n Verdagte is kort na die voorval in hegtenis geneem. Hy is tans in aanhouding.
•Dit is nie seker waarvan hy by die dieseldepot beskuldig is nie.
Lees meer hier:
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
