News

Verdwyn nadat werk nie afgehandel is nie

Inwoners in Middelburg het meer as net stormskade opgedoen tydens die verwoede storms in Desember. Daar word nou gesoek na Morne Grobler nadat hy glo meer as R26 000 uit drie inwoners bedrieg het.

Wendy Fourie vertel dat mnr. Grobler bouwerk by hulle gedoen het. Die eerste krake het begin wys toe ‘n vriendin haar bel en sê dat gereedskap wat baie soos haar man se eiendom lyk, by ‘n pandjieswinkel in die dorp staan.

Mev. Fourie kon die gereedskap terug kry, nadat hulle ‘n draai by die polisie gemaak het. Mnr. Grobler het om verskoning gevra en gesê dat dit een van sy werkers is wat die gereedskap gesteel het.

Sy het in totaal R32 000 aan hom oorbetaal vir werk wat hy moes doen. Haar badkamer is volledig gedoen en hy moes nog net kaste insit vir R7 200. Na talle leë beloftes is die werk egter nooit gedoen nie.

Kort daarna het CTM by haar huis opgedaag, omdat mnr. Grobler glo met ‘n vervalsde bankstrokie verskeie badkamer toerustig, soos die bad wat hy geïnstalleer het, bekom het.

•Pieter Goosen sê dat mnr. Grobler een van vier kontrakteurs is wat ‘n kwotasie verskaf het, nadat sy muur in Desember deur die storm omgewaai is. Mnr. Grobler het R16 000 gekwoteer om die muur te bou. Hy het 75% van die bedrag vooruit vereis vir die aankoop van boumateriaal.

Mnr. Goosen het net oor die R11 000 betaal. Drie werkers wat nie Afrikaans of Engels magtig was nie, het vir twee dae bakstene kom skoon kap. Beloftes van sand en boumateriaal wat binnekort afgelewer gaan word is nooit gehou nie.

Toe mnr. Goosen agterkom dat daar fout is, het hy, saam met nog ‘n klaer, mnr. Grobler na die polisiestasie geneem. Daar het mnr. Grobler gesmeek en gesê dat hulle sy motor kan hou tot die werk afgehandel is.

Kort daarna het hy en sy vrou, Tanya, egter by mnr. Goosen opgedaag met twee polisiemanne. Dit blyk dat die motor op mev. Grobler se ma se naam geregistreer was. Die motor is aan mev. Grobler teruggegee.

•Fransie Botha vertel dat sy ‘n buitegebou wou aanbou. Sy het vroeg in Desember R8 300 aan mnr. Grobler oorbetaal vir die aankoop van boumateriaal, al het hulle reeds meeste van die materiaal self aangekoop.

Werkers wat weier om te werk omdat hulle nie betaal is nie, was die laaste strooi en mev. Botha het mnr. Grobler gebel en gevra dat hy eerder van die projek onttrek, omdat sy nie te midde ‘n werkersgeskil vasgevang wou wees nie.

Mnr. Grobler het beweer dat hy reeds aankope by Mega Hardware gedoen het maar by navraag moes mev. Botha uitvind dat dit nie die waarheid was nie.

Na baie telefoonoproepe het mnr. Grobler net bloot opgehou om sy foon te antwoord.

Sedert die begin van hierdie week is mnr. Grobler skoonveld. Sy vrou sê dat sy Sondag vir hom gesê het om liefs uit te trek en sy moeilikheid uit te sorteer, voordat hy daaraan dink om terug te kom.

Aanvanklike pogings om ‘n saak by die polisiestasie te gaan maak was onsuksesvol, omdat mev. Fourie wysgemaak is dat dit ‘n siviele aangeleentheid is. Daar is egter om hulp by die stasiebevelvoerder, brig. Jansen Ngoveni aangeklop en al die klaers was Donderdagoggend 09:00 by die polisiestasie om verklarings af te lê.

Intussen is mnr. Grobler steeds soek. Sy foon is af en hy reageer nie op boodskappe nie.

Daar is verneem dat hy soortgelyke streke in Nelspruit en Witrivier aangevang het.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button