Editor's choiceNews

Flopsport: Tobie van den Bergh

Goeiemôre Middelburg...! Sit toe af sie toe. Noordkus. Umhlanga. Oppad op die N3. Jare nadat Afsaal woonstelle nog gewild was en Amanzimtoti die gunsteling kuierplek.

‘n Bussie kruie tydsaam voort, met visstokke langs die kant vasgemaak en ‘n sleepwa kom agterna met ‘n bees op, wat nie Kersfees gaan sien nie. Was dit dalk ‘n Blou Bulletjie wat geslag gaan word of ‘n Blou Bul wat gaan feesvier?

•So beland jy toe by die Sands. Lekker plek. En jy hoor die eerste keer van die Rage Festival en van Red Frogs. Dis nou matrikulante wat op Umhlanga toesak vir vakansie.

Die Red Frogs moet help om orde te handhaaf. Jy’s verstom. As daai jong bulletjies, met opgepompte lywe, kan rugby speel soos hulle kan drink, wen die land ‘n wêreldbeker.

Sowaar as padda manel dra, hulle kon toe nie drink nie, want op een dag is drie met ambulanse weggery.

•In sardynwêreld kon jy sien dit was ‘n stil seisoen. Waar jy by Volksrust al ‘n bord gekry het: “Welcome in Sharks Country”, was daar nie eers ‘n vissie op ‘n kar nie. Wat jy wel waargeneem het, is die skielike vlaag rooi en wit truie.

•Terwyl daar ‘n see was van Leeu truie, was daar ook skielik meer All Black en Australië truie. So verwonder jy jou so by jou selwers: Gaan daar ‘n dag kom dat meer mense die All Blacks gaan ondersteun as ons eie Bokke?

•En die eensaamste ou was Marco Wentzel, wat in ‘n juwelierswinkel rondgekrap het in die Gateway sentrum, terwyl sy spanmaats gesweet het. Die gewese Puma en Bok slot is verrassend uit die Sharks se Super groep weggelaat.

•Maar nouja, vakansie is harde werk. Jy staan op en gaan stap rustig op die promenade en jy moet net koes. Al wat Nataller is draf. Kaal bolywe (die mans natuurlik), met hulle se hondjies, ou tantes, jong tantetjies, ou bevelde omies, boepomies.

Moet die fiksste provinsie in die land wees…met die dikste monde. Jy groet: “Môre!”. Hulle kyk jou aan asof jy Blou Bul horings op het. Dalk verstaan hulle nie: “Gooood Mooorning!” Hulle kyk jou net. Jy sien iemand wat lyk asof hy ook van die Transvaal is: “Môre!”. “Môre! waar kom julle vandaan?”.

•Na die stap is dit natuurlik see toe. Daar is jy in een helse geveg met bedonderde branders. Jy dink nog jy staan, dan sluk jy sand en water.

Jy probeer die lyfplank, maar sien hoe lag die matrikulante in hulle mou as die plank daar trek en jy soos ‘n dronk ou op die strand uitstrompel. (Julle kan maar see toe gaan – dis nie waar dat al die branders platgery is nie).

•Nee, om vakansie te hou moet jy fiks wees. Lekker om terug te wees op Middelburg. Rustig. So gedink. Toe kom Nuwejar.

Net na twaalf dink jy die oordeelsdag het aangebreek. Dis net bomme en ligte. Skrik jou tot in die derde geslag. Was dit dalk die voorspooksel van ons sportjaar? Bang!

•Die nuutste behalwe # is rommelstatus. Deesdae is alles rommelstatus, of oppad rommelstatus toe, soos ons Proteas.

•Dit was nag in Nagpur en op Nuweland? Liewe Land, daar jaag hulle rooi balle rond.

•Versigtig wat jy skryf, twiet of op Vleisboek plaas. Daarom kan ons net sê: Mavuma het Woema.

•Vra ‘n koerant vir mense wat is hulle nuwejaarswense en byna almal antwoord: “‘n Nuwe president”. As jy enige sportou vra wat is sy wens, sal hy antwoord: “Geen sportminister nie”.

•Lank gelede, 1976. Army. Tsumeb. Plofstof gaan haal. Gaan fliek die aand: Death Race 2000 met David Carradine. ‘n Simpel fliek. Daar word deur Amerika gejaag en dan kry kry jy punte vir toeskouers wat jy langs die pad raakry. Hoe erger die ongeluk, hoe meer punte.

Nou is dit Dakar en daar is skaars weggespring en ‘n kar ploeg tussen toeskouers in. Het die vervaardigers van Death Race 2000 dalk iets geweet wat ons nie geweet het nie?

•Is jare gelede spanbestuurder van die Oos-Transvaal marathon span na Kaapstad. Saterdagaand vergryp die klomp drawwers, wat nie gewoont is aan hotelkos nie, hulle aan al die lekker etes en verorber bakke nagereg. Sondagoggend met die terugvlieg gaan dit knyp-knyp.

Een vliegtuig – een toilet – dertig moeilike mae. Skaars weg by Jan Smuts Lughawe moet daar gestop word. So tussen die kosmos sien jy net… en ‘n paar meter verder staan die bordjie Holfontein.

Nou gaan ons dorp se Cycad Voetslaners die einde Januarie by Holhoek stap. Bly weg van die nagereg, anders gaan julle hol op Holhoek.

•Mag die jaar nie holrug gery word met kwotas en politiek nie, maar mag dit net sport en sports wees…

…en slegte nuus vir julle rooigevaartes, ons bloed is steeds blou…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button