News

Wonderwerk baba

Klein Ethan Jay Smith is ’n wonderwerk wat al van sy geboorte af teen stry teen ’n gewas in sy hartjie.

Ethan is op 16 September 2015 gebore, waarna hy ’n paar dae in die neonatale eenheid deurgebring het, omdat sy longetjies nie dadelik honderd persent gewerk het nie.

Op 26 Oktober is sy ma, Christel, met hom dokter toe omdat hy abnormaal asem gehaal het.

Net daar het die lang pad begin. Hy is dieselfde dag in die Life Midmed Hospitaal opgeneem, waar alle moontlike toetse gedoen is. Hy word oorgeplaas na die Unitas Hospitaal, waar ’n pediatriese kardioloog bevind dat Ethan ’n reuse gewas in sy hartjie het en dat ’n klep lek in sy linkerkantste hartkamer.

Die gewas was so groot dat dit sy longetjies en sy hartjie uit proporsie gedruk het. Ethan moes so gou as moontlik ’n hartoperasie ondergaan, maar die medies dek nie Unitas se kostes nie en daar word beplan om die operasie in die Sunninghill Hospitaal te doen.

Dieselfde tyd (31 Oktober) word daar ’n gebedsketting vir Ethan begin.

Hy moes op 2 November opgeneem word vir die operasie, maar op 1 November word hy skielik siek en die volgende dag ondergaan die seuntjie, wat op daardie stadium net ses weke oud was, sy eerste opehart operasie.

Dokters wou die gewas verwyder, maar dit was te naby aan die hoofslagaar en sy linkerkantste hartwand.

Net ’n stukkie van die gewas word verwyder vir verdere toetse.

Op 4 November kom die gewas se uitslae terug en word me. Smith meegedeel dat dit nie kwaadaardig is nie en met die hulp van medikasie self sal krimp.

’n Dag later ondergaan hy ’n vyf uur lange hartoperasie waar hulle ’n omleiding doen op sy linker hartkamer. “Dit was vir ons almal ’n groot skok, want Ethan is op lewensonderhoudende masjiene geplaas.

Ons almal het gebid, gehoop en geglo dat Ethan okay sal wees, al is sy borsie oop as gevolg van al die masjiene, pypies en draadjies Ons het nie vir een oomblik getwyfel nie en bly glo op ’n wonderwerk,” vertel sy tannie, Wanda Smith.

Die wonderwerk waarvoor hulle gebid het, het gebeur! Alhoewel Ethan op masjiene was, het hy dag vir dag sterker geword “terwyl almal vir hom bid.”

Op 11 November is die masjiene afgehaal, aangesien sy hartjie sterk genoeg was om alleen te klop en is sy borsie toegemaak.

Hy was egter nog op ’n asemhalingsmasjien en toe hulle dit afhaal, klop sy hart 250 slae per minuut en moes die dokters hom skok om sy hartritme normaal te kry.

Verdere toetse het bepaal dat sy linkerlongetjie platgeval het en dokters het vermoed dat die gewas die longpypie toegedruk het.

“Ons het só gebid en toe dokters die oggend toetse doen, was die pypie, tot hul verbasing, oop en het sy longetjie opgelig.”

Almal was verstom toe die seuntjie op 7 Desember uit die Sunninghill Hospitaal ontslaan is. Hy is dieselfde aand weer in die Midmed Hospitaal opgeneem vir medikasie, waarna hy “met die Here se genade” op 10 Desember huistoe is.

“Ethan moet op 20 Januarie weer in Johannesburg wees vir ’n opvolgbesoek. Die gewas lyk of hy tans besig is om in stukkies op te breek en te verkrummel! Ons as familie kan net die Hemelse Vader bedank. Met geloof kan mens berge versit!”

• Me. Smith is ’n alleenouer en het nog derduisende rande se uitstaande doktersonkostes. Persone wat haar wil ondersteun, kan haar bel by 072 523 1381 of Magda by 083 789 7570 vir verdere inligting.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button