News

Vuurwerk woede

As gevolg van die roekelose afvuur van klappers en vuurwerke het Jan Prinsloo (59), van Bloekomsig, die nuwe jaar ingegaan in 'n plas bloed met sy been wat aan flarde geskeur is nadat hy in die pad van sy beangste boerboel beland het.

Voor die aanval het hy vir ure gesukkel om die bure sover te kry om die klapperskietery te staak.

Hy het op ‘n stadium, net voor middernag, uitgegaan om te kyk of die honde nog almal reg is. Net toe hy by sy boerboel, Tjokkie kom, het daar ‘n klapper bokant hul koppe afgegaan. Die volgende oomblik het die hond mnr. Prinsloo gegryp.

“Hy het net aanhou byt. Ek het geval, terwyl hy my aan die lieste, arm, in my sy en op my been gebyt het.”

Mnr. Prinsloo kon daarin slaag om ‘n wurgketting om Tjokkie se nek in die hande te kry, voordat die hond hom aan die keel kon beetkry. Hy het die hond gewurg tot hy los.

Daarna moes mnr. Prinsloo homself sleep tot aan die kant van die huis sodat sy vrou sy hulpkreet kon hoor. Sy been was aan flarde en sy kuit het soos ‘n lap langs sy been af gehang. Sy dogter, Irma van Noordwyk, wat op daardie stadium langs die Middelburg dam gekamp het, is ontbied. Sy, haar dogter Micaela en haar vriend, Ryno, het hulle na Bloekomsig gehaas. Oppad soontoe het hulle om hulp geroep op die Zello 911 radiogroep.

Daar is eers gesukkel om ‘n provinsiale ambulans in die hande te kry. Intussen het mev. Van Noordwyk na die bure gestap en gevra dat hulle moet ophou om hul klappers te skiet. Hulle het haar uitgejou, gevloek en vir haar gesê dat hulle sal doen soos wat hulle wil en meer as bereid is om ‘n boete te betaal in ruil vir die pret wat hulle het.

Ten eindelaaste het ER24 paramedici hul na die toneel gehaas en mnr. Prinsloo is na die Middelburg Hospitaal geneem, waar sy wonde verbind is.

Die Prinsloo gesin was vol lof vir die behandeling wat hulle by die hospitaal gekry het.

“Ons almal voel nou beter. Ek en die hond. Mens kan sien hy voel baie sleg oor wat gebeur het. Hy vermy my en lyk sommer skuldig as jy met hom praat,” sê mnr. Prinsloo.

“Mens voel so magteloos. Daar is absoluut niks wat jy kan doen nie. Ons het die polisie probeer bel, niemand het gekom nie. Hulle kan maak wat hulle wil en jy sit met diere wat mal raak van vrees.”

•Inwoners beskryf hierdie jaar se afvuur van vuurweke as die ergste in jare. Talle honde het die strate in gevlug en daar is erge weerstand, maar ook magteloosheid, omdat geen wetstoepassing teen skuldiges toegepas word nie.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button