News

Middelburg sekretaresse begin Facebook WSSA projek

Met die droogte desperaatheid in ons land "het die Here 'n visie" op 'n sekretaresse se hart geplaas, wat deur meer as 19 000 vrywilligers verder gevoer is.

“Dit is nie meer my projek nie, maar ons land s’n” het Caroline van Saasen dié week gesê nadat haar Facebookblad, Water Shortage South Africa (WSSA), ontplof het en nasionale en internasionale nuusmedia laat toustaan om daaroor te berig.

Tans is hierdie projek die tweede grootste Facebookprojek in die wêreld, naas Boere in Nood. ‘n Projek wat ontstaan het in ‘n vrou se hart omdat sy hartseer was oor ons land se nood.

Die aand van 28 Desember 2015 het me. Van Saasen in trane na foto’s en Facebookplasings gekyk hoe mense desperaat in veral die Vrystaat vir water vra in droogtegeteisterde gebiede.

“Familie van my wat in die Vrystaat bly, het vertel hoe ‘n boer en helpers desperaat in Winburg probeer het om ‘n koei regop te hou, maar die dier het onder hul hande gesterf. En ek het gehoor van die boer van Welkom wat al sy diere abattoir toe gevat het om geslag te word, want hulle sou vrek van honger en dors.”

Op hierdie selfde oomblik “het die Here dit op my hart gedruk om iets te doen.” Sy het dadelik ‘n Facebookblad geopen met die naam Water Shortage South Africa.

Volgens me. Van Saasen was haar aanvanklike plan dat vakansiegangers en ander reisigers net water saamneem van areas af waar daar wel water is na droogte gebiede.

“Ek het nooit kon dink dat dit só groot sou raak nie. Binne etlike ure was daar 100 lede op die groep. ‘n Dag later 400, nog ‘n week later 10 000 en tans is daar al meer as 19 000 lede.”

Dit is egter nie die lede op die blad wat gegroei het nie. Uit hierdie visie, het ‘n projek in ons land ontstaan waar daar binne slegs ‘n paar dae duisende mense as vrywilligers en koördineerders na vore gekom en een van die grootste saamstaan aksies ooit in Suid-Afrika begin is.

Me. Van Saasen werk voltyds en kon nie die administratiewe deel van hierdie radikale groeiende projek hanteer nie en daar is tans 11 persone wat vrywillig die administratiewe deel hanteer.

Verder is daar op elke dorp waar daar tans droogte of ander probleme is, mense wat die tonne en tonne water in ontvangs neem.

Dorpe wat wel water beskikbaar het, soos Middelburg, het afleweringspunte, vanwaar hierdie water met trokke na die gebiede vervoer word.

Die projek werk baie eenvoudig: Daar word op die Facebookblad geplaas waar die waternood die grootste is, waarop die administratiewe span dadelik daarop antwoord en ‘n lys deurgestuur word vir die vrywilligers. Sakemanne het van die begin af die projek ondersteun.

As daar byvoorbeeld ‘n tekort is in Senekal, vertrek daar dadelik trokke (wat voorsien word deur sakelui) vanaf ‘n dorp waar daar water bymekaar gemaak is en word dit afgelewer. Honderde duisende kilometers is al afgelê.

Selfs in die droogtegebiede is daar vrywillige spanne wat die water in ontvangs neem en dit uitdeel waar dit dit nodigste is.

Duisende liters water, wat nou sommer in tonne gemeet word, word elke dag, ten alle tye, afgelewer.

Net by me. Mandy Pretorius se huis alleen is daar die afgelope week 32 ton (32 000 liter water) afgelewer, wat deur trokke opgelaai en na verskillende dorpe versprei is.

Daar is rou- en drinkwater (die bottels en tenks word daarvolgens gemerk). As daar mense is waar daar nog riviere loop, sal daar byvoorbeeld slegs drinkwater afgelewer word.

‘n Mooi voorbeeld was toe daar dringend water in Aliwal Noord benodig is, maar daar eenvoudig nie op daardie stadium water beskikbaar was nie. “‘n Maatskappy uit Luxembourg, Europa, het bygedra sodat daar 20 000 liter water aangekoop kon word in Oos Londen en vervoer word na Aliwal Noord!”

Een vrywilliger, Deon Smith, is na ‘n armoedige huisie in Belville ontbied, waar die bejaardes in al wat ‘n bakkie en botteltjie water bymekaar gemaak en in sy kar gelaai het.

“Dors vra nie van watter kleur, geloof of hoe baie geld jy het nie. By Sannieshof is water uitgedeel aan mense wat drie dae laas water gedrink het. Een van die kinders het die liter water bottel teen sy mond gesit en dit met één teug leeggedrink!”

Me. Van Saasen sê dat die WSSA projek nie net ‘n eenmalige samewerkingsprojek in ons land gaan wees nie.

‘n Tydelike trustfonds (berig elders) saam met twee prokureurs en ‘n ouditeur is gestig, dat indien daar enige fondse sou inkom, om die projek volhoubaar te hou.

Met die hulp van vele sakelui van regoor die land wat geïnteresseerd is om deel te word van die projek, word beplan om in veraf geleë plekke, waar daar nie water naby is nie, watertenks op te sit, wat twee keer per week volgemaak sal word.

“Die WSSA is nie net ‘n fisiese, maar ‘n geestelike projek wat in elke persoon betrokke se hart werk. Ek ervaar in my gees dat die waterprojek nie net dors sal les nie, maar mense se vlees en siel ook sal voed. Ek glo hierdie handevat-projek is profeties dat daar in mense se harte gewerk sal word om hande te vat.”

• Verskeie trokke van ander dorpe het die afgelope week op Middelburg gestop, om water op te laai en te gaan aflaai in ander dorpe. Een van hul aflaaipunte was by die Wonderboom Hervormde Kerk, vanwaar trokke dadelik vertrek het na verskillende dorpe om af te laai, waar water benodig word.

• Me. Van Saasen is ‘n sekretaresse by die Kamer van Koophandel.

• Sy het Woensdag ‘n onderhoud gehad met die span van Carte Blanche oor die projek saam met die bekende Ray de Vries, wie me. Van Saasen “haar mentor” noem. Mnr. De Vries is die eienaar van ‘n bekende mediamaatskappy. Hy is ook die eienaar van Water from Air.

• Me. Van Saasen het verskeie media-onderhoude die afgelope week met internasionale nuusmedia, waaronder die BBC en ‘n joernalis van Duitsland wat Facebooknuus hanteer.

Die Observer se joernalis moes juis wag dat sy laatmiddag ‘n onderhoud met Robyn Dixon (‘n joernalis van die Los Angeles Times, wat regdeur die wêreld, soos Rusland, nuus dek) voltooi, voordat sy met ons kon gesels.

• Lees elders meer oor die trustrekening en Ray de Vries se ervaring van die projek.

• Die afgelope week het daar in vele gebiede in ons land mildelike reën begin val, maar die probleme is nog nie iets van die verlede nie en mense word regdeur die land steeds gevra om water by te dra.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button