Vermoed sindikaat is betrokke
In die bestek van slegs drie dae is drie motorfietse op die dorp gesteel en word geglo dat daar 'n sindikaat bedrywig is.
Veral Gomoto motorfietse blyk diewe se gunsteling te wees.
• Mnr. Charl Hoffman het Maandagoggend gevind dat sy wit Gomoto Bashan 200cc motorfiets (HMD763MP) uit hul erf in Zuidstraat gesteel is.
Soos met vele ander inbrake en motorfietsdiefstalle, is die elektriese hekmotor gebreek en die hek oopgeskuif.
Hy het drie pare voetspore van die diewe gekry, waarvan een ‘n kleiner voetspoor as die ander.
“My ma het besonder klein hande, maar die polisie het ‘n nóg kleiner vingerafdruk as hare op die hekmotor gekry. So daar is beslis ‘n jong persoon deel van die bende.”
Hy sê hy het stukke gekry van sy stuurstang waar dit gebreek is, aangesien die stang gesluit was. “As hulle die motorfiets net op ‘n bakkie gelaai het, was dit nie nodig om die stuurstang te breek nie. So hulle het die stuurstang gebreek om dit te kon stoot. Ek glo die motorfiets kan dalk nog in die omgewing by iemand wees!”
Mnr. Hoffman het gemeld dat sy ma by ‘n versekeringsmaatskappy werk en dat sy vele eise van motorfietsdiefstalle hanteer. Sy is oortuig daarvan dat ‘n sindikaat in Middelburg bedrywig is.
• Bykans regoor die Hoffmans in Zuidstraat, is mnr. Andries Loubsher se Gomoto Explore SI semi-veldfiets (HKX811MP) ook gesteel.
Hulle het Dinsdagoggend agtergekom dat die fiets deur die loop van die nag verdwyn het. Die diewe het toegang tot die erf gekry deur oor die muur te spring, die hekmotor buite aksie te stel en die hek te skuif.
Die groep wou by die motorhuis ook inbreek, maar kon net ‘n gedeelte van die motorhuisdeur opgebuig kry en het daarna gevlug.
• Woensdagoggend het die Oosthuizens van Sterkspruitstraat (Aerorand Wes) besef hulle was die slagoffers van diewe toe ‘n groen Big Boy Pulse (FTT749MP) gesteel is uit hul erf.
Hulle bied ‘n beloning aan vir enige persoon wat inligting kan verskaf wat die motorfiets kan opspoor.
Hierdie diefstalle was egter nie die enigste die afgelope maand nie.
• Die motorfietsdiefstalle het die nag van 8 Januarie begin toe ‘n blou Gomoto 175cc bromponie (HMN096) en twee valhelms by die Keet familie in Harry Gwalastraat (Dennesig) gesteel is.Volgens me. Clarissa Keet is hul hond iets ingegee, want hulle het ‘n leë vlaboks buite gekry. Wat vreemd is, is dat niks anders gesteel is nie, want daar was baie meubels en elektriese toerusting saam met die motorfiets onder die afdak.
• Op 10 Januarie is ‘n geleende motorfiets by Koppiestraat gesteel.
Me. Cornelia de Vaal sê sy het die silwer Linhai bromponie (DYL437MP) geleen om werk toe te ry en het hom die nag voor haar Wendyhuis gestop,
Die motorfiets is eenvoudig by die hek uitgestoot.
• Die Riekerts was met verlof en met hul terugkeer by hul huis in Totiusstraat (Gholfsig) het hulle agtergekom dat hul groen Jonway 125cc bromponie (DFJ342MP) gesteel is.
• Op 19 Januarie vind mnr. Jaco van Greunen dat sy 250cc Gomoto motorfiets (FNT099) uit sy erf in Piet Groblerstraat (Dennesig) gesteel is.
• Die polisie se mediawoordvoerder, adj. Lize de Witt, sê mense moet seker maak hul hekke is gesluit en dalk maar ook hul elektriese hekke met ‘n slot vassluit, sodat die diewe nie by die hekmotors kan uitkom nie.
Nog ‘n veiligheidsmaatreël wat gevolg kan word, is om te probeer dat motorfietse in motorhuise weggesluit word of buite sig op die erf weggesteek word.


