News

Begin nou eet vir Winterslaap!

Die slange het vroeg in die seisoen ietwat weggekruip, maar moenie té gerus wees nie, want die reën bring insekte, insekte bring paddas en paddas bring slange!

Slangvanger Victor Boshoff sê hulle het die afgelope seisoen min slange gevang. Verlede Sondag het hy ‘n klein nagaddertjie in St Helenastraat (Dennesig) gaan haal en Maandag het ‘n molslang mense in Totiusstraat (Gholfsig) die skrik op die lyf gejaag.

Mnr. Boshoff het gesê dat die slange nie so baie soos vorige seisoene gepla het nie, aangesien dit so geweldig warm was. “Slange het baie vog nodig.”

Daar was wel een of twee gevalle waar sy hulp gevra is tydens slangbytvoorvalle.

In Desember het ‘n kind in die Loskop omgewing op ‘n slang getrap en is gebyt. Die foto’s van die bytplek is vir mnr. Boshoff gestuur, waarop hy die bytplek geïdentifiseer het as ‘n nagadder en hulle geadviseer het hoe om die wond te behandel.

Die ander paar voorvalle was uit ander provinsies, waar hy ook deur middel van foto’s bytplekke geïdentifiseer en behandeling voorgestel het.

Mense moet egter nie té gerus raak omdat hulle nog nie slange gesien het nie. Baie slange broei in Januarie en Februarie uit in veral komposhope.

“Ek werk al 30 jaar met slange en met persoonlike ondervinding het ek die volgende gevind. Hoe warmer die temperatuur was, hoe aggressiewer is die slange, anders as wat hulle in normale temperature sou uitbroei.”

Mnr. Boshoff sê dat klein slangetjies ook baie aggressiewer en gevaarliker is as groot slange, aangesien hulle nog nie beheer het oor hul gifkliere nie.

Hy lag net as hy “ouvroustories” hoor dat waar daar klein slangetjies is, wag die ma-slang ook! “Die slang wat die eiers gelê het, is drie maande gelede al weg! Sy lê haar eiers en geepad.”

Die paar buie reën wat die afgelope tyd geval het, kan ‘n toename in slange veroorsaak, want die insekte kom uit, wat paddas lok en op hul beurt weer ‘n groot lekkerte is vir slange. Slange soek nou ook kos om voor te berei vir hul Winterslaap (hiberneer).

In die geval waar ‘n slang wel ‘n laspos raak, is daar ‘n baie eenvoudige manier om self die slang te vang, as ‘n slangvanger nie dadelik opgespoor kan word nie. Hou net die slang in die oog, kry ‘n groterige emmer en druk koerantpapier daarin. Sit die oop kant van die emmer in die rigting van die slang.

Hy sal self die donkerte soek, waarna die emmer net toegemaak kan word. ‘n Swart 50mm waterpyp kan ook werk. Maak die een kant toe met ‘n paar koerante, sit dit naby die slang en hy sal self inseil.

“Moet onder géén omstandighede ooit ‘n slang agter die kop probeer vang nie! Die Stiletto (Sypikslang) byt na die kant toe en ‘n pofadder kan deur sy vel na die kant toe byt!” ‘n Slang soos die swartmamba, se vel is los om sy nek, wat beteken dat hy kan omdraai in sy vel en kan byt, sou jy hom agter die kop beetkry.

• In die geval waar slangbyte voorkom, moet mense so gou as moontlik by ‘n dokter uitkom. “Moenie met die wond karring nie. As daar blase is, moet dit nie probeer stukkend maak nie. Vir beide slang- én spinnekopbyt geld hierdie reël. Moet ook onder geen omstandighede ys opsit nie! Slegs in die geval van skerpioenbyt kan ys gebruik word!”

• As mense onseker is watter tipe slang of spinnekop hulle gebyt het, kan hulle ‘n foto neem van die bytplek en dit SMS of WhatsApp na 083 628 4902 of 082 697 9954.

• Lees elders meer oor die LimPuma Herpetologiese Vereniging wat beplan om ‘n tak in Middelburg te open.

Lees meer hier:

Leer alles van slange

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button