Dertienjarige red vierjarige se lewe
Terwyl die bye homself herhaaldelik gesteek het, het 'n dertienjarige seun van sy eie veiligheid vergeet en sy boeties en nefie se lewens gered met sy heldhaftige optrede.
Hanno Spaumer (13) en sy boeties, Ian (10), Duan (6), nefie PJ Oosthuizen (4) en niggie Tanya Spaumer (15) het die naweek by oupa Sakkie en ouma Sarie Bester op die plaas, Vaalfontein (Groblersdalarea) gekuier.
Saterdag omstreeks 17:00 is mnr. Bester dorp toe. Me. Bester het ‘n storie op televisie gekyk en die kinders het buite na akkedisse gesoek.
Terwyl Hanno in die boom voor die erf rondgesoek het na die akkedisse, het die bye wat nes gemaak het onder in die boom, omgekrap geword. Ian het gesien hoe die bye eers die honde aanval en vir Hanno gewys. Hanno het besef wat gebeur toe ‘n by hom op die arm steek en het vir die ander geskree om te hardloop.
Tanya, Ian en Duan het weggehardloop van die huis af, oor die erf na die werkswinkel perseel langsaan. Hanno het ook begin hardloop, maar toe hy omkyk om te sien waar is PJ, het ‘n hele swerm bye om PJ se kop gedraai.
Hanno het omgespring, vir PJ gegryp en na die beeskrip gehardloop. Hier het hy vir PJ in die water gegooi en self ingespring. Hy sê daar was op daardie stadium “‘n helse koek bye op PJ se rug!” Toe hy PJ in die water gooi, toe sien jy net bye vlieg!
Die oomblikke wat PJ opgekom het vir asem, het Hanno hom weer onder die water gedruk. Toe PJ die tweede keer opkom, toe skree hy vies: “Die water stink!”Sekondes later het Hanno weer opgekom vir asem en gesien dat PJ uit die krip uit gespring het en hardloop in die huis se rigting, reguit op die boom met bye af!
Hy het besef dat PJ deur die bye gaan hardloop en het uitgespring en weer agter PJ aangehardloop.
Hy het die vierjarige ingehardloop, hom opgeraap, onder sy arm vasgeknyp en deur die bye gehardloop na die swembadjie toe by die lapa. Hier het hy weer vir PJ in die water gegooi en ingespring. Hy het heeltyd PJ se kop onder die water gedruk as hy klaar asem geskep het.
Me. Bester was nog in die sitkamer toe sy PJ se gille hoor. Op dieselfde oomblik wat sy by die huis uitgestorm het, het sy gesien hoe Hanno in die swembad spring en PJ se kop onder die water druk.
Sy het vir Hanno gevra wat aangaan, waarop hy vir haar gesê het dat die bye hul aanval. Sy het PJ gegryp en die huis ingehardloop, met Hanno kort op haar hakke.
Me. Bester het uitgevra na die ander, waarop Hanno begin skree het: “Ouma moet hulle gaan help! Die bye het hulle seker klaar doodgesteek!”
Sy het paniekerig kaalvoet na buite gehardloop en na die kinders begin soek. Gelukkig het die ander redelik ongedeerd daarvan afgekom. Tanya en Duan het geen steke gekry nie en Ian is drie keer gesteek.
Ian, was op sy beurt ook ‘n held, want hy het na Duan gaan soek, wat om die hoek van die kantoor weggekruip het. Ian was omring met bye. Toe hy vir Duan kry, het Duan vir hom gesê dat nie een van die bye hom gesteek het nie. Ian het dadelik weggehardloop van Duan af, sodat die bye nie vir Duan kan steek nie.
Teen die tyd wat ouma Sarie met die ander drie by die huis aangekom het, het Hanno al PJ se klere uitgetrek en hom in ‘n bad met koue water laat lê, omdat PJ gehuil het dat die bysteke brand.
Me. Bester het haar man gebel en gevra dat hy by ‘n apteek pille of salf moet kry om die kinders vir die bysteek te behandel. Hy kon nie ‘n apteek oop kry nie en het huistoe gejaag om sy vrou met die kinders te gaan help.
Volgens me. Bester het Hanno “baie sleg gelyk. Sy oë was spierwit en het oor mekaar gekyk. Hy het ook op ‘n stadium swart voor hom gesien en sy sig was dowwerig.”
Sy het vir hom ‘n allergiepilletjie gegee en vir die ander twee elkeen ‘n halwe pil. Dit het dadelik die gewenste uitwerking gehad.
Met nadere ondersoek, het sy gevind dat Hanno 32 keer gesteek is op sy gesig en op sy rug (toe hy die tweede keer deur die bye hardloop met PJ onder die arm), PJ het danksy sy nefie se heldhaftige optrede net sewe gehad en Ian is drie keer gesteek.
“Dit was vir ons en veral vir ouma Sarie ‘n verskriklike ondervinding. Sy het heelnag wakker gelê en kort-kort opgestaan om te kyk of die kinders reg is,” het Hanno se ma, Somarie Spaumer, gesê.
‘n Dokter van Marble Hall het hulle meegedeel dat Hanno se optrede heel waarskynlik PJ se lewe gered het.
“Hy het vir geen oomblik daaraan gedink dat hyself kon doodgaan as hy veelvuldige steke opdoen nie. Sy grootste beweegrede was om PJ na veiligheid te help! Dankie Hanno, jy is ons held!”
• Me. Spaumer sê dat Hanno “‘n kind is wat altyd op sy voete dink.”
Hulle het in Desember ook ‘n voorval gehad waar hy dadelik die beheer oorgeneem het toe almal paniekerig geraak het.
Die familie het vuurwerke op die plaas geskiet, waarop een van die vuurwerke omgeval, tussen die mense deur gevlieg en die veld aan die brand gesteek het.
Almal het vir ‘n ruk verstar, maar nie Hanno nie.
Toe iemand water in houers wou tap uit die krane, het hy vir hulle geskreeu om met emmers sommer uit die swembad uit water te skep en op die vlamme te gooi. Hy het alles uit die koelbokse gegooi en sommer self begin water skep en op die vlamme gegooi.
Een van die volwassenes het met ‘n boks die vlamme probeer blus, waarop die boks aan die brand geraak het. Hanno het vir hom geskree dat hy die boks in die swembad moet natmaak, waarop die vuur kort daarna geblus is.
“Hanno is uitsonderlik!”
• Hanno is ‘n leier by Laerskool Julian Muller en ook ‘n goeie rugbyspeler by die skool. Dit is dalk waarom hy PJ so maklik soos ‘n rugbybal onder sy arm kon vasklem!
Lees nog relevante stories hier:
Video: Aan die brand ‘gesteek’


