Opvolg: Nóg vuil wasgoed in hof
"As dit dan so sleg met ons gegaan het. Hoekom het sy nie daardie aand net omgedraai, geloop en my geskei nie.
Hoekom moes ek vier keer in die rug geskiet word?” het mnr. Seef Mulder uitgevaar in die verhoor van sy gewese vrou, Annemarie (Antz).
Me. Mulder word daarvan aangekla dat sy op 2 Oktober 2013 gepoog het om haar man te vermoor deur hom verskeie kere te skiet.
Hy is onder andere in ‘n rugwerwel, middelrug, sy regterblad en regterskouer gewond. Hy was vir drie weke in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal, waarna hy nog ‘n paar dae in ‘n gewone saal deurgebring het.
Hy het gedeeltelike gebruik van sy regterhand verloor, is gedeeltelik blind weens bloedverlies, het probleme met geheueverlies en sê dat hy pal rugpyn het.
Haar regsverteenwoordiger, adv. Denton Goodford, het mnr. Mulder weereens gepeper met vrae rakende hul ongelukkige huwelik.
Na kruisondervraging het adv. Goodford gesê dat hy onttrek van die saak, aangesien sy kliënt, me. Mulder, hom nie verder kon betaal nie.
Die saak is uitgestel na Maandag sodat me. Mulder weer regsverteenwoordiging kon kry, waartydens mnr. Goodford aangedui het dat hy hertoegetree het tot die saak.
Die verhoor sal vanaf 9-13 Mei voortgesit word.
Lees vorige stories hier:

