Video: Hond met pyl geskiet
’n Hond het vir etlike dae met ’n pyl in sy blad rondgeloop en het weens pyn die pyl van agteraf probeer afkou.
’n Emosionele senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg DBV) het gesê dat sy die dier uit sy pyn moes verlos, “aangesien die wond reeds vrot was”.
Sy is Dinsdagmiddag deur fietsryers gekontak wat op die hond afgekom het. Die dier het in die veld in die omgewing agter Middelburg Ferrochrome en Columbus gelê.
Insp. Oberholzer sê hulle het gesukkel om naby hom te kom, aangesien hy aggressief was weens die pyn.
Die pyl het die hond se blad binnegedring en die been versplinter. Die bloed was droog en sig weens sweersel het by die wond uitgeloop. Die agterkant van die pyl is deur die dier afgekou, soos hy probeer het om dit self uit te kry.
Insp. Oberholzer het dadelik ’n veearts gebel wat aanbeveel het dat sy dadelik die dier uitsit om hom uit sy pyn te verlos.
“Baie mense het op Facebook my aangeval omdat ek die hond moes uitsit. As ons die dier probeer deurhaal het, sou hulle die voorste blad en been moes afsit. Die hond sou nooit weer behoorlik kon loop nie!”
Nadat sy die hond uitgesit het, het sy gesukkel om die pyl uit die wond te kry. Sy het aangedui dat sy die pyl na ’n boogskietklub gaan neem om te kyk of hulle die eienaar van die pyl kan opspoor om te vervolg.
• Mnr. Lourens Nel (van die Olifantsrivier Boogskietklub) het gesê dat die hond geweldige pyn moes ondervind het met die pyl in sy blad.
“Daardie tipe pylpunt is ’n jagpyl en word gebruik om bokke mee te jag. Ek sal graag wil weet wie is hierdie persoon wat die hond geskiet het!”


