News

‘Your Gentleman Dentalman’ of te not

Jan-Hendrik van der Westhuizen, oudleerling van Laerskool Elandslaagte, het die wêreld aan sy voete nadat hy die gesogte Michelin toekenning verwerf het. Maar daar is talle oudMiddelburgers wat hulle oorsee laat geld.

Dr. Jorrie Jordaan, oudtandarts van Middelburg, woon al die afgelope 18 jaar in Engeland.

Hy het Suid-Afrika in 1996 verlaat en sowat twee jaar in Australië deurgebring, voordat hy in 1998 na Engeland is.

Jy het vir vyf jaar by ‘n nasionale gesondheidspraktyk gewerk, voordat hy sy eie praktyk kon koop.

“Jy word gedwing om vir die staat te werk vir vyf jaar. In Julie 2004 het ek ‘n klein praktyk gekoop in ‘n dorpie met die naam Bexhill on Sea aan die suidkus van Engeland en ongeveer 100 kilometer vanaf London.”

Hy praktiseer nog en geniet dit baie by sy privaat praktyk waar hy hoofsaaklik ouer mense sien.

“Bexhill is die grootste bogrondse begraafplaas. My motto in die praktyk is ‘Only floss the teeth you want to keep’.”

Dr. Jordaan is ‘n nederige man wat al talle toekennings ontvang het, onder andere ‘Best Practice’ en ‘Gentleman Dentalman’.

“My nuutste prestasie is dat Jan-Hendrik van der Westhuizen, die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n Michelin-ster gewen het, een van my pasiënte was toe ek nog op Middelburg gepraktiseer het,” skerts hy.

Vir al 18 jaar in Engeland, woon hy in St. Leonards on Sea wat omtrent vyf kilometer van sy praktyk af is.

“Ek bly teenaan die see en dit voel of ek elke dag met vakansie is. Mens raak die weer gewoond en ek mis nie eintlik die son nie, hoewel die reën en koue soms bietjie lank aanhou. As jy geneig is tot depressie, moenie in Engeland kom bly nie!”

Dr. Jordaan sê dat geen land sonder probleme is nie.

“Elke land het maar sy eie probleme en Engeland is geen uitsondering nie. Wat wel voordelig is, is dat Europa om die hoek is en jy kan gou vir ‘n naweek oorskiet Parys toe of waarheen jy ook al wil. Die openbare vervoer is oral uitstekend.”

Hy mis sy mense en snaaks genoeg sien hy van hulle nou meer vandat hy in die buiteland is.

“Ons gaan ten minste een maal ‘n jaar ‘huis toe’ en soms selfs twee of drie keer. Eenmaal ‘n boer, altyd ‘n boer.”

Daar is baie van sy pasiënte wat gereeld na Suid-Afrika gaan en graag oor die land praat.

“Ek luister elke dag Afrikaanse radio en kyk op Showmax na die programme wat beskikbaar is. Die bande sal altyd daar bly.”

Hy en sy vrou, Retha, is groot rugby ondersteuners en hulle Springboktruie hang in die kas.

“Ons was by ‘n paar wedstryde tydens die 2015 Wêreldbeker waarvan die treurmare teen Japan ongelukkig een was. My hele spreekkamer bemark Suid-Afrika. Die tema is Afrika en menige pasiënte het al op ons aanbeveling Suid-Afrika besoek.”

Of hy egter sal terugkom Suid-Afrika toe, is ‘n ope vraag.

“Ek het aan die begin gesê ek sal nie terugkom nie, maar soos die jare aanstap, mag ek dalk net weer met my tasse daar opdaag. Ek is te oud om oor te begin en sal maar hier klaarmaak met die tande. Op ‘n manier wreek ek die boere-oorlog, tand vir tand.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button