NewsUpdate

Kaptein het meisie afgelaai

’n Kaptein van die eMalahleni Polisie het erken dat hy die meisie wat verlede week en Donderdagaand in ’n diep slaap voor ’n huis gevind is, daar afgelaai het.

Kapt. Awie Geldenhuys het onomwonde erken dat hy die meisie voor die huis afgelaai het, “maar dat sy self uit sy voertuig geklim en na die hek aangestap het”. Hy sê sy wou nie dat hy saamloop nie omdat sy “nie die huismense wou wakker maak nie.”

Sy is kort voor 05:00 deur ’n fietsryer op die sypaadjie gekry. “Dit was verskriklik. Sy het agter die vullissakke gelê wat die munisipaliteit nie kom haal het nie. Sy was vas aan die slaap.”

www.mobserver.co.za het die familie opgespoor en hulle het op voorwaarde dat hul name nie genoem word nie, met die joernalis gepraat.

Die koerant het self ook na videomateriaal gaan kyk by Amazons Restaurant om te sien wat die Woensdagaand in die kuierplek gebeur het, waar sy was voordat die kaptein haar afgelaai het.

Sy het omstreeks 23:00 by die restaurant aangekom en saam met ’n groep jongmense gekuier.

Daar kan gesien word dat sy slegs twee drankies drink. Later het sy egter nog ’n paar slukke van vriende en vriendinne se drankies geneem.

Kapt. Geldenhuys het middernag opgedaag. Hy het die meisie duidelik geken, want haar ’n paar keer drukkies gegee en ook twee keer piksoene.

Haar vriende het omstreeks 01:30 vertrek, waarna sy saam met kapt. Geldenhuys, na wie sy as die “polisie-oom” verwys, en nog ’n onbekende man, by die kroeg gaan staan het.

Sy het ’n drankie saam met hulle gedrink en is daarna na die badkamer.

Die onbekende man het ook vertrek en kapt. Geldenhuys het alleen agtergebly en duidelik vir die meisie gewag. Hy het drie keer na die badkamer gegaan om haar te roep.

Toe sy uit die badkamer kom, was sy onvas op haar voete en het teen die trappie afgestruikel. Kapt. Geldenhuys het sy rug op haar gedraai sodat kan opklim, waarna hy haar uitgedra het.

Hy het haar in sy voertuig gelaai en met haar na ’n huis gery, waar daar, volgens die meisie, ’n vrou uitgekom het wat vir haar ’n klein wit pilletjie gegee het.

Sy weet dat hulle weer begin ry het, maar dat sy kort daarna niks kon onthou nie.

Die meisie is die volgende oggend deur die fietsryer gevind. Sy was bebloed en haar ken en hande was stukkend.
Kapt. Geldenhuys het by navraag geweet van haar besering en gesê hy dink sy het geval buite by die voertuig toe hulle uit is by Amazons.

Die meisie se pa het verskeie vrae waarop hy antwoorde soek, soos waarom die kaptein nie sy dogter veilig by hom besorg het nie en hoekom hy sy kind net daar op die sypaadjie gelos het. Hy wil ook graag weet watter pilletjie vir sy kind gegee is.

Die familie het tot op hede geen formele klagtes by die polisie aanhangig gemaak nie.

Kapt. Geldenhuys wou geen kommentaar lewer op haar bewering dat hy vir haar ’n pilletjie gegee het nie.

• Sedert 2007 het ten minste vyf vroue aantygings teenoor kapt. Geldenhuys gemaak. Hy is nooit skuldig bevind aan enige van die klagtes nie.

In 2011 het twee vroue beweer dat hy een onder andere verkrag het, nadat hulle van ’n kuierplek afgekom het. Hy departementeel in 2012 aangekla en afbetaal. Hy is egter weer heraangestel en die strafregtelike saak is van die hofrol gehaal.

•Sedert die eerste berigte oor die voorval, is www.mobserver.co.za oorval met talle nuwe bewerings. Enige persoon met verdere inligting kan dit stuur na daleen@mobserver.co.za. Inligting sal vertroulik hanteer word.

Lees vorige storie hier:

Video: Ondersoek na meisie langs pad

Vrou langs pad gekry

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button